Akrobate hard aan die oefen vir die jaar wat voorlê
Akrobatiese dansers van Jolene's Acrobats het reeds verlede week weer begin oefen en voorberei vir die jaar wat voorlê.
POLOKWANE – Akrobatiese dansers van Jolene’s Acrobats het reeds verlede week weer begin oefen en voorberei vir die jaar wat voorlê.
Na die lang Desembervakansie was baie van die dansers styf en het dit hulle ‘n rukkie gevat om weer aan die gang te kom met hul splits, handstande, krapstande, en fiksheid. “Hierdie jaar wil ek al my dansertjies topfiks kry en hul splits moet plat,” vertel Jolene Oosthuizen, eienaar en afrigter van Jolene’s Acrobats.
Alhoewel daar nog nie vaste datums vir die meeste van die jaar se kompetisies en eksamens is nie, is die dansers reeds besig met voorbereiding vir hul jaarlikse eksamens deur twee verskillende dansassosiasies. Die nasionale kompetisies is ook in September in Pretoria.
Hierdie jaar wil Oosthuizen ook meer opelugvertonings by liefdadigheidsgeleenthede aanbied.
Sy begin al dansers van tweejarige ouderdom af afrig en help hulle met ontwikkeling, koördinasie en soepelheid.



