Local sportSport

Angelique se droom is om ander te leer

Angelique Faul het gedans nog voor sy behoorlik kon loop en deesdae is dans haar passie.

POLOKWANE – Angelique Faul het gedans nog voor sy behoorlik kon loop en deesdae is dans haar passie.

Sy het op ses jaar by die akrobaatfamilie aangesluit toe haar ma haar by ‘n klub ingeskryf het om te sien hoe sy in dié sport sou vaar.

Die afgelope 10 jaar het sy al aan verskeie nasionale kompetisies deelgeneem en uitstekende prestasies behaal.

In 2013 het Angelique aan ‘n nasionale kompetisie in Johannesburg deelgeneem waar sy ‘n eerste plek en 100% vir haar solo optrede losgedans het. Sy het ook tweede in die trio-afdeling saam met dansmaats Desiree Buys en Leorich Bannau gekom.

“Elke dans wat ek doen kom uit my hart uit. Dans is my passie en ek werk hard om te bereik wat ek wil,” het dié akrobatiese danser, wat vier dae ‘n week drie ure ‘n dag oefen, gesê.

Angelique het ook verlede jaar haar eerste afrigterseksamen afgelê en met ‘n slaagpunt van 96,5% weggestap. Sy is ook tans een van die twee mees gekwalifiseerde akrobate wat by Jolene’s Acrobats dans.

“My droom is om eendag my eie studio te hê, om kinders te leer hoe om met hulle dansbewegings ‘n storie te vertel en elke noot van die musiek te voel,” het sy vertel.

Vir dié 16-jarige meisie is dans die venster na haar hart. “Ek gebruik dans om myself uit te druk as ek nie woorde het om dit te doen nie. Ek voel vry die oomblik wat ek my voete op die dansbaan sit.”

“Wanneer ‘n danser dans, kom dit vanuit die mees eerlike deel van haar siel,” het sy verduidelik.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button