PHS-krieket troef Jeugland
Verlede naweek het beide die o/15- en eerste krieketspanne van Hoërskool Pietersburg teen die spanne van Hoërskool Jeugland van Kemptonpark in 'n Super18-kragmeting te staan gekom.
POLOKWANE – Verlede naweek het beide die o/15- en eerste krieketspanne van Hoërskool Pietersburg teen die spanne van Hoërskool Jeugland van Kemptonpark in ‘n Super18-kragmeting te staan gekom.
Die o/15-span van PHS het die o/15-span van Jeugland die stryd aangesê op PHS se krieketvelde. Pieties het besluit om eerste te kolf en 412 lopies aangeteken in 50 boulbeurte. Hulle het net vyf paaltjies verloor.
Die bydraes van Dian Forrester, wat 156 lopies aangeteken het, en Lohan Duvenage, wat 92 lopies aangeteken het, het PHS gehelp om met 317 lopies te wen nadat hulle Jeugland vir ‘n skamele 92 lopies uitgehaal het.
Driaan Kruger, kaptein van PHS se o/15-span, het drie van Jeugland se paaltjies geneem en Luan Visagie en Corné Craig het elkeen twee lopies geneem. Louis Nel, Ross Crous en Sias Willemse het elkeen een paaltjie geneem.
PHS se eerste krieketspan het hulle wedstryd teen Jeugland op Jeugland se velde gespeel. Ook húlle het eerste gekolf en het 235 lopies aangeteken in 50 boulbeurte.
JJ van der Merwe het die grootste bydrae PHS se oorwinning gemaak deur 62 lopies aan te teken.
Jeugland kon slegs 111 lopies aanteken voor hulle almal uitgehaal is en PHS het die wedstryd met 124 lopies gewen.
Aakon Landsberg en Morné Venter het elkeen die paaltjies geneem terwyl Brendan Bezuidenhout en Jaco Potgieter elkeen twee paaltjies geneem het.



