Unies se kampioene takel mekaar op jukskeibaan
Die Limpopo Jukskei-unie het algeheel derde geëindig in die Noordelike Unies se senior kampioenskappe wat die afgelope naweek by die Polokwane Jukskeibane aangebied is.
POLOKWANE – Die Limpopo Jukskei-unie het algeheel derde geëindig in die Noordelike Unies se senior kampioenskappe wat die afgelope naweek by die Polokwane Jukskeibane aangebied is.
Die sewe unies wat aan die kampioenskap deelgeneem het was Limpopo, Mpumalanga, Gauteng-Noord, Gauteng-Oos, Gauteng-Wes, Sentraal-Gauteng en Noordwes.
In die Mans A1 en Veterane A2-afdelings het Limpopo derde plekke behaal. Gauteng-Wes het in beide afdelings tweede plekke losgespeel en Gauteng-Noord het in beide afdelings as wenners uitgetree.
Limpopo se B&C-span 3 het ook derde in hulle afdeling geëindig met Noordwes ‘n kortkop voor hulle in die tweede plek en Gauteng-Noord in die eerste plek.
“Die toernooi was baie suksesvol sonder beserings of ernstige probleme. Ons prysuitdeling is egter deur die reën belemmer, maar ons kon almal op die stoep en kombuis akkomodeer en dit afhandel,” het Anton Botha, Limpopo Jukskei-unie se direkteur van administrasie, aan Review gesê.
Die volgende jukskeigeleentheid in Polokwane is ‘n plaaslike ligadag vir al die klubs in die unie en vind op Saterdag, 8 Februarie, by die Polokwane jukskeibane plaas. Plaaslike proewe sal op 14 en 15 Februarie gespeel word.



