PHS troef Heuwelkruin op die krieketveld
Die eerste-krieketspan van die Hoërskool Pietersburg (PHS) slyp hulle tande vir die semi-finale ronde van die Coca Cola Pro 20 Skolekompetisie.
POLOKWANE – Die eerste-krieketspan van die Hoërskool Pietersburg (PHS) slyp hulle tande vir die semi-finale ronde van die Coca Cola Pro 20 Skolekompetisie.
Dié span het nog een uitspeelwedstryd wat vir hulle voorlê môre (Woensdag) teen ‘n span wat teen druktyd nog nie bekendgemaak is nie.
Verlede Maandag het PHS se krieketspelers teen die eerste span van Curro Heuwelkruin te staan gekom in ‘n Coca Cola Pro 20-uitspeelwedstryd.
PHS het eerste gekolf en 173 lopies vir die verlies van vier paaltjies in 20 beurte aangeteken.
Heuwelkruin kon slegs 44 lopies aanteken vir die verlies van ses paaltjies voordat reën die spel na 12 beurte kortgeknip het.
PHS se kolwers het hulle goed van hulle taak gekwyt. JJ van der Merwe het 52 lopies van 32 balle aangeteken, Armand Pansegrouw het 46 lopies van 48 balle aangeteken en Jaco Potgieter het 43 lopies van 23 balle aangeteken.
Kolwer Diaan Coertze het drie paaltjies vir 12 lopies in drie beurte geneem en Jaco Potgieter het 2 paaltjies vir nege lopies in vier beurte geneem.
Alhoewel die wedstryd nie voltooi kon word nie, is PHS as wenners aangewys op grond van beide spanne se lopietempo’s.
In ‘n vorige wedstryd het PHS te staan gekom teen Seshego Ontwikkelingskool, waar hulle met 146 lopies gewen het, en teen Capricorn High School waar hulle met nege paaltjies gewen het.



