Local sportSport

Noordelikes se nuwe afrigter wil werk vir nuwe diepte in die span

Die eerste span van die Noordelikes Rugbyklub het Saterdag 'n opwarmingswedstryd teen Roodepoort Rugbyklub gespeel in die Cell C-Gemeenskapsbeker.

POLOKWANE – Die eerste span van die Noordelikes Rugbyklub het Saterdag ‘n opwarmingswedstryd teen Roodepoort Rugbyklub gespeel in die Cell C-Gemeenskapsbeker.

Noordelikes het verlede jaar in dieselfde toernooi die onderspit gedelf teen die gedugte span van Roodepoort en kon Saterdag ook nie hond haaraf maak nie. Hulle het die wedstryd 41-19 verloor.

Twee van Noordelikes se sleutel-spelers, agsteman Zach Botha en vaskopstut Jaco Rabie, kon weens beserings nie speel nie.

Beserings is een van die grootste kopsere wat Noordelikes se nuwe afrigter, Frederick Romijn, moet hanteer.

Die 34-jarige Romijn het gesê die talent is daar, maar om op die vlak van die Cell C-Gemeenskapsbeker mededingend te wees, moet ‘n span diepte hê. Daar moet genoeg goeie spelers wees om beseerde spelers te vervang sonder erge impak op prestasie. Volgens hom is daar bloot nie genoeg spelers om die diepte te vul nie.

Romijn het verduidelik ‘n groep van 30 spelers vir hierdie toernooie sal gepas wees, want as ‘n span ‘n sleutelspeler verloor weens ‘n besering en nie ‘n ander speler het om hom mee te vervang nie, is dit ‘n groot probleem.

“Ten spyte van die talent, is Limpopo nog ver agter op die vlak van kondisionering. Korrekte eetgewoontes is ook nie op peil nie,” het Romijn gesê.

Romijn het gesê in die opwarmings-wedstryde teen die Limpopo Blou Bulle en teen Roodepoort, is baie aandag aan balbesit geskenk. Hy het uitgewys dat mens nie punte kan aanteken sonder die bal nie. Daarom was dit vir hom belangrik om besit te behou en nie onnodig weg te skop nie.

Romijn het gesê spelers moet besef dat hulle beter voorbereid moet wees en harder moet werk in af-seisoene. “Klubrugby het meer semi-professioneel geword.”

Romijn, wat oorspronklik van Middelburg kom, is ‘n sportdirekteur by Mitchell House College. Na skool is na Gauteng waar hy aan die Randse Afrikaanse Universiteit finansiële bestuur studeer het en sy hoër onderwysdiploma gekry het.

Hy het op sy dag as agsteman op die veld gedraf. Hy het vir RAU se o/19 en /21-spanne gespeel asook vir die destydse Transvaal se o/19 en o/21-spanne. Later het hy ook vir Brakpan Rugbyklub gespeel en saam met die Valke na Rusland getoer.

Sedert sy aanstelling verlede jaar in Polokwane by Mitchell House College, het dit Romijn nie lank geneem om sy afrigterwortels hier te skiet nie en hy is aangestel om die Limpopo Blou Bulle o/19-span se voorspelers te brei.

Noordelikes Rugbyklub het Romijn genader om sy eerste span vir die Cell C-Gemeenskapsbeker voor te berei en hy het nie veel oortuiging nodig gehad om in te spring nie.

Onder hierdie afrigter se ferm hand mag Noordelikes dalk net die ander klubs verbaas met hulle nuutgevonde diepte.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button