Speke die sing in Makhulu 5
Die Makhulu 5 berg- en padfietsren, aangebied deur Polokwane Pedallers fietsryklub, het verlede Saterdag die stad op horings gehad.
POLOKWANE – Die Makhulu 5 berg- en padfietsren, aangebied deur Polokwane Pedallers fietsryklub, het verlede Saterdag die stad op horings gehad.
Heinro Malan het die 75km bergfietsren, wat in die Polokwane Wildreservaat gery is, gewen met ‘n tyd van 2 ure, 39 minute en 26 sekondes.
Hy moes verbete trap om sy fiets se neus voor dié van Nico Geldenhuys te hou.
Geldenhuys het die hele wedren lank in Malan se nek geblaas, maar moes met ‘n tweede plek tevrede wees in ‘n tyd van 2 ure, 39 minute en 38 sekondes.
Michael Wood het die derde plek behaal met ‘n tyd van 2 ure 46 minute en 38 sekondes.
In die 38km bergfietsren het Komzo Bere die botoon gevoer en amper 1 minuut voor sy naaste teenstander, Rynhardt O’Kennedy, oor die wenstreep gejaag.
Bere se wentyd was 1 uur 25 minute en 42 sekondes terwyl O’Kennedy in ‘n tyd van 1 uur 26 minute en 41 sekondes dié wedren voltooi het. Derde oor die eindstreep was Pieter Jacobsz in ‘n tyd van 1 uur 28 minute en 12 sekondes.
Jean de Jager was die wenner in die 18 km bergfietsren in ‘n wentyd van 41 minute 1 sekonde, slegs 11 sekondes vinniger as Ruan Hiestermann wat in tweede plek met ‘n tyd van 41 minute 12 sekondes klaargemaak het.
In die derde plek, as die eerste vroue deelnemer oor die wenstreep van dié wedren, was Leonie Hattingh. Sy het die 18km in ‘n tyd van 47 minute 14 sekondes voltooi.
Makhulu 5 padfietswedren:
Sowat 73 fietsryers het aan Sondag se padfietsresies deelgeneem.
Vanjaar se wenner is bepaal deur die hoeveelheid rondes wat voltooi is. Die eerste vier deelnemers oor die wenstreep het almal sewe rondes voltooi.
Heinro Malan het hierdie wedren in ‘n tyd van 2 ure 58 minute en 4 sekondes gewen.
Vier sekondes na Malan het Sarel Lubbe met ‘n tyd van 2 ure 58 minute en 8 sekondes die tweede plek behaal.
Die derde plek is deur Joco Lochtenberg ingeneem met ‘n tyd van drie ure, skaars twee sekondes na Lubbe.
Die eerste fietsryer oor die eindstreep in die twee-ure afdeling was Chris de Klerk. Hy het dié sege in ‘n tyd van 1 uur 37 minute en 47 sekondes oor vier rondes behaal.
Die wenner van die een-uur afdeling was Zian van den Heever wat oor twee rondes ‘n wentyd van 54 minute 47 sekondes aangeteken het.



