Naas Vorster pronk in die groen en goud
Naas Vorster is 'n bedrewe potspelmeester wat 'n plek in die Suid-Afrikaanse span losgespeel het in die onlangse nasionale potspelkampioenskappe in Kimberly van 19 tot 23 Februarie.

POLOKWANE – Naas Vorster is ‘n bedrewe potspelmeester wat ‘n plek in die Suid-Afrikaanse span losgespeel het in die onlangse nasionale potspelkampioenskappe in Kimberly van 19 tot 23 Februarie.
Naas het derde gekom in die afdeling vir mans oor 40 jaar nadat hy sy spel teen 80 spelers in hierdie afdeling op die proef gestel het.
Hy het uitstekend gevaar en 57 punte aangeteken, slegs drie punte minder as die algehele wenner van hierdie kampioenskappe.
Die Suid-Afrikaanse potspelspan gaan van 25 tot 31 Oktober aan die wêreldkampioenskappe in Skotland deelneem.
Naas het aan Review vertel dat hy by die vorige kampioenskappe net vyf punte meer nodig gehad het om vir die nasionale span te speel, maar dat hy baie bly is om hierdie jaar in die span ingesluit te word.
“Dis die eerste keer dat ek nasionale kleure verwerf, dit het nog nie heeltemal by my ingesink dat ek wel in die span is nie. Dit sal my seker nader aan die tyd oppad na Skotland behoorlik tref,” het hy gesê.
Naas is een van die bestuurslede en mede eienaar van die Upstairs Pool and Sports Bar potspelklub in Polokwane. Hy en sy klublede is tans besig om hard te werk aan voorbereidings vir die opkomende junior nasionale potspelkampioenskappe wat vanjaar van 2 tot 6 Junie hier in Polokwane aangebied gaan word.
Volgens hom is dit die eerste keer dat die provinsie nasionale potspelkampioenskappe aanbied.
Hy het vertel dat hy aan die hoof is van die organisering van hierdie junior kampioenskappe en dat hulle dringend op soek is na ‘n plek om dit aan te bied.
Sowat 60 deelnemers word verwag, uitsluitend die spanbestuurders, en die organiseerders sal verkies dat hulle op die terrein bly. Verblyf vir die spanne moet by een plek gereël word sodat daar nie onnodig heen en weer gery hoef te word nie.
Naas het verduidelik Limpopo se juniorspan skiet tans te kort aan genoeg spelers. Junior spelers wat be-langstel om aanspraak te maak op ‘n plek in die Limpopo-span, kan hom by 083 635 0586 of sy vrou Charlie Vorster by 072 833 1338 kontak.



