Tweede sege voorspel goeie seisoen vir Brian
Die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse veldrenmotorfiets- en kwadfietskampioenskappe is Saterdag in die Noordkaapse dorpie, Windsorton, aangebied.
POLOKWANE – Die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse veldrenmotorfiets- en kwadfietskampioenskappe is Saterdag in die Noordkaapse dorpie, Windsorton, aangebied.
Team Rhide SA-Yahama se Brian Baragwanath, een van Polokwane se mees gedugte mededingers in dié kampioenskapsreeks, het korte mette van die roete van sowat 360km gemaak vir sy tweede agtereenvolgende oorwinning vanjaar.
Baragwanath was dan ook die wenner van die Q1-afdeling van dié ronde.
Baragwanath het net onder 15 minute voor sy naaste teenstander, David Hollis op sy Yamaha vierwieler, geëindig.
Sy Team Rhide SA-Yahama spanmaat, Hannes Saaijman, het vir groot opwinding gesorg toe hy ‘n splitsekonde na Hollis in die derde plek geëindig het.
Die warm weer het bygedra dat die roete ‘n baie stowwerige affêre was.
Hierdie poeierfyn stof het een van Polokwane se ander deelnemers, André du Plessis, verhinder om sy pad na voor oop te veg op sy Yamaha na ‘n swak wegspringplek, weens die swak sigbaarheid in die stofwolke wat die voorlopers opgeskop het. Du Plessis het nietemin die elemente en sy teenstanders verbete aangedurf om uiteindelik ‘n vierde plek los te jaag.
Die ander kwadfietsrenjaer van Polokwane, ‘n gunsteling om hierdie kampioenskappe uiteindelik te wen, was die huidige dubbelkampioen, Jurie
“Botter” Meyer, op sy Yahama Race Support.
Meyer sowel as Tzaneen se Jaco Moller op sy Extreme ATV Tzaneen-Yamaha is deur meganies probleme uit die wedren in Windsorton geknikker.
Meyer se pa, Jurie snr., het weer in die kwadfietsmeestersklas sy klaskampioenskapstitel verdedig deur dié afdeling met sy Yamaha te wen. Hy het sowat 46 sekondes voor sy naaste teenstander en klaswenner van die eerste kampioenskaps-ronde, George Twigge, oor die wenstreep gejaag.
Die BELL 400-wedren is die volgende ronde op die kalender en sal op 10 Mei in Vryheid in KwaZulu-Natal beslis word.



