Local sportSport

Opwindende, taai stryd tussen Noordelikes en Letaba

BB Truck Noordelikes het Saterdag 'n harde wedstryd teen Letaba-rugbyklub se eerstespan gespeel.

POLOKWANE – BB Truck Noordelikes het Saterdag ‘n harde wedstryd teen Letaba-rugbyklub se eerstespan gespeel.

Noordelikes se eerste- en tweedespanne het op hul tuisveld uitgedraf in die Boet Fick Liga.

Die eerstespan het hul wedstryd naelskraap met ‘n eindtelling van 20-14 gewen. “Kyk, dit is eintlik vir ons ‘n teleurstelling. Ons moes hulle verder gewen het,” het Tony Varela, die klub se president, gesê. “Letaba se span lyk goed op die oomblik en ons manne praat nou hard met mekaar,” het hy bygevoeg.

Thyman Jongbloed en Koning Janse van Rensburg het beide vir Noordelikes agter die doellyn gaan kuier.

Noordelikes se tweedespan het hul taai stryd teen Letaba 13-5 verloor.

“Ons beplan om die liga te wen en weer in die gemeenskapsbeker te speel. Dit is ons mikpunt,” het Varela gesê.

Noordelikes speel hierdie naweek teen Pietersburg Rugbyklub (Dorp) wat die afgelope naweek teen die span van Messina gespeel het.

Dorp se eerstespan het uitgedraf teen Messina en 38-22 verloor.

“Ons begin nou weer heel onder. Ons sit met 22 jong o/19- en o/21-spelers wat nou teen die hardebaarde speel. Op die oomblik vergeet ons van wen of verloor en probeer ‘n les leer uit elke wedstryd,” het Pierre Venter, Dorp se klubkoördineerder aan Review gesê.

Dorp speel Saterdag op hul tuisveld teen Noordelikes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button