Pa en seun leer baie deur golf
Die band tussen pa en seun moet gekoester word, veral terwyl die pa nog sy seun in die huis het.
POLOKWANE – Die band tussen pa en seun moet gekoester word, veral terwyl die pa nog sy seun in die huis het.
Llewellyn Olivier, ‘n finansiële adviseur, vertel hoe hy en sy seuns, Corné en Llewellyn jr., van jongs af tyd saam spandeer op die gholfbaan en hoe hulle nou as sportmanne en mans volwassenheid bereik het.
“Ek was nie eintlik ‘n gholfspeler nie, ek het tennis gespeel, maar nadat ek getroud is het ek begin gholf speel.
“Vandat dat my seuns kan onthou, het ons gholf gespeel. In die begin het ek vir my vrou gesê ek weet darem nie of die twee seuns gaan gholfspelers wees nie.
“Want dan putt klein Corné die bal en as hy sien die bal is nie in lyn nie dan hardloop hy sommer en putt hom weer terwyl die bal nog rol,” vertel Llewellyn laggend.
Mens moet tog onthou dat Corné toe nog net vyf jaar oud was. Vandag is hy een van die top 10 jong gholfspelers in die land en die wenner van die onlangse o/19-interprovin-siale gholftoernooi.
Corné, wat tans in gr. 12 is by Hoërskool Pietersburg, se prestasies op die gholfbaan is te veel om op te noem, maar hy is al vir die afgelope vier jaar deel van PHS se eerste-gholfspan; die einste span wat vir afgelope drie jaar die algehele wenners van die Tuks-Skolereeks was.
Corné is ook die naaswenner van die Woodlands Junior Masters Gholftoernooi se individuele kompetisie waar hy teen 168 spelers van meer as 20 skole meegeding het.
Pa Llewellyn se leiding en raad het ‘n groot rol gespeel in Corné se prestasies.
Corné het in die laerskool aan vele sportsoorte deelgeneem en het veral op die krieketveld uitgeblink.
Hy het vir Laerskool Pietersburg-Oos Super 12-krieketspan gepeel.
“Ek het op ‘n kol vir hom gesê hy moet een sport kies. Jy weet, dit help nie jy is n Jack of all trades nie,” vertel Llewellyn. Toe kies Corné gholf.
Hy het alles wat hy weet van gholf by sy pa geleer en later ook by Ray Earle van The Goose Academy.
“Ek het maar altyd saam met hom gespeel en hom ore aangesit op die baan, tot so ‘n paar jaar terug. Nou kan ek hom glad nie meer wen nie. Dit is eintlik glad nie meer ‘n kompetisie tussen my en hom nie, want hy wen heelpad,” vertel Llewellyn trots.
Nog ‘n ding wat Llewellyn besonder trots maak, is die komplimente wat hy kry rakende sy seun se gedrag op die baan.
“Jy sien, gholf leer mens baie dissiplines. Behalwe vir ball sense, leer mens eerlikheid, integriteit, gedragskodes, kleredragskode en ook gentlemen’s sportsmanship. Jy trap nie op ‘n ander ou se lyn nie. Dis nie in ‘n reëlboek nie, maar dit is hoe dit werk,” verduidelik Llewellyn.
Llewellyn glo dis die waardes wat sy seuns geleer het in gholf wat sal sal lei tot hul sukses in die toekoms.



