Noordelikes speel finaal op hulle tuisveld in stad
Hierdie naweek is die eindstryde van die eerste, tweede en derde-ligas van die Boet Fick amateurligakampioenskap.
POLOKWANE – Hierdie naweek is die eindstryde van die eerste, tweede en derde-ligas van die Boet Fick amateurligakampioenskap.
“Noordelikes sal vanjaar die sesde tuisfinaal in ‘n ry speel.
Ons is oortuig daarvan dat ons die Boet Fick-liga weer sal wen,” sê Tony Varela, president van die klub.
BB Truck Noordelikes se drie ligaspanne gaan teen die 15-talle van Letaba Rugbyklub Saterdag op die tuisveld van Noordelikes in Ladanna, kragte meet om te sien wie is die onderskeie ligakampioene hierdie jaar.
Die eerste eindstryd vir die derdeliga-spanne sal om 14:30 begin en daarna sal die tweede en eerste-liga eindstryde beslis sal word.
Noordelikes se tweedespan het die afgelope Saterdag op Kargo Pietersburg Rugbyklub se veld in die halfeindstryd teen Dendron Rugbyklub se span met 26-19 gewen.
Letaba Rugbyklub se eerstespan klop Messina met 28-7 om sy plek in die eersteligaeindstryd teen Noordelikes Saterdag te bespreek.
Noordelikes nooi almal uit om hulle te kom ondersteun en die dag saam te kom geniet. Ondersteuners kan uitsien na kookwaterrugby.



