Zander kén sy reëls
Zander Kubannek, 'n plaaslike rugbyskeidsregter, het onlangs die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se streng skeidsregterkeuring geslaag.
POLOKWANE – Zander Kubannek, ‘n plaaslike rugbyskeidsregter, het onlangs die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se streng skeidsregterkeuring geslaag.
Die 20-jarige Kubannek het op 16-jarige ouderdom reeds begin om wedstryde te blaas toe hy nog ‘n leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé was.
“Dit was ‘n lang proses om die nodige evaluerings te slaag en dit verg baie toewyding om fiks te bly en op hoogte te bly met die spelreëls,” vertel Kubannek.
“Vandat hy begin blaas het, kon ons sy potensiaal raaksien,” vertel Attie Buitendag, voorsitter van die Limpopo-skeidsregtersver-eniging en Kubannek se mentor.
“Zander is ook die eerste skeidsregter van Limpopo wat as ‘n Saru-skeidsregter gekeur is en ons is baie trots op hom,” voeg Buitendag by.
Van die eerste groot wedstryde wat Kubannek in sy nuwe hoedanigheid geblaas het sluit die Currie Cup-wedstryd vir vroue tussen die Leopards en die Limpopo Blou Bulle die afgelope naweek in Polokwane in.
Kubannek was ook een van die skeidsregters van die Coca-Cola Grant Kgomo-rugbyweek.
Hy vertel dat sy mikpunt is om een van die beste skeidsregters in die wêreld te wees. “Ek wil internasionale toetsrugby blaas, veral ‘n toets waar die Bokke in aksie is,” sê hy.
Wat uitdagings aanbetref vertel Kubannek laggend dat syne nie een van die gewild-ste beroepe is nie, want ‘n skeidsregter maak altyd een of ander span se ondersteu-ners kwaad.



