Ontmoet Polokwane se wêreldkampioen
Heinrich Heins, 'n 14-jarige karateka van die stad, het op 17 Julie Polokwane se naam hoog gehou toe hy goud by die Kimura Shukokai-wêreldkampioenskappe gewen het.
POLOKWANE – Heinrich Heins, ‘n 14-jarige karateka van die stad, het op 17 Julie Polokwane se naam hoog gehou toe hy goud by die Kimura Shukokai-wêreldkampioenskappe gewen het.
Hy het tydens die kampioenskappe ‘n goue medalje in kumite gewen nadat hy teen baie sterk kompetisie te staan gekom het met meer as 30 karatekas per afdeling uit 18 lande.
“In die uitdunne het Heinrich teen karatekas van Switzerland, Swede en Suid-Afri-ka te staan gekom,” vertel sy afrigter sensei Marcia van Niekerk, wat self ook ‘n bronsmedalje in die kampioenskappe, wat by by Sun City aangebied is, gewen het.
In die finaal het Heinrich teen ‘n mede Suid- Afrikaner te staan gekom en hy het met die titel en trofee weggestap.
Hy beoefen hierdie vegkuns al vandat hy ses jaar oud was.
“Hy het baie harde werk ingesit en lank voorberei vir die kampioenskappe. Van sy beste eienskappe is verseker sy selfvertroue en sy tegniek.
“Heinrich kan sy opponente instinktief opsom in ‘n geveg,” vertel Van Niekerk.
“Ek is baie kompeterend en hou daarvan om te wen,” vertel Heinrich.
“Maar die sport help ook met fokus en dissipline.”
Akademie is ook belangrik vir hom, en hy is onder die top 10 leerders in sy graad by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé. Hy speel ook graag rugby.
“Ek sien uit na die volgende wêreldkampioenskappe wat in 2016 in Duitsland sal plaasvind. Ek wil daar my titel te verdedig en weer goud huistoe te bring,” sê hy.



