Rugbyspan gereed vir toernooi
Proewe vir die Limpopo Blou Bulle-amateurrugbyspan het Dinsdag op BB Truck Noordelikes se velde plaasgevind.
POLOKWANE – Proewe vir die Limpopo Blou Bulle-amateurrugbyspan het Dinsdag op BB Truck Noordelikes se velde plaasgevind.
Afrigters Freek Romijn en Johan Steyn het spelers gekies vir die span wat van 17 tot 22 Augustus aan die amateurrugbyweek gaan deelneem by die Peter Mokaba Stadium. Dié toernooi word deur die Limpopo Blou Bulle in samewerking met die Blou Bulle Rugby-unie en SARU aangebied.
“Ons wil goed doen in die amateurtoernooi. Dit is vir die unie belangrik dat ons goed doen en ek voel ons het baie talent hier gesien vandag,” het Freek Romijn, hoofafrigter, gesê.
Die Limpopo Blou Bulle, Leeus, Laeveld, Valke, Pumas, Luiperds en twee spanne van die Blou Bulle sal deelneem aan hierdie week.
Die eerste wedstryd skop om 10:00 op 18 Augustus af.
Ingang is gratis vir toeskouers en die pu-bliek word genooi om ook op 18 Augustus vanaf 19:00 ‘n gesellige aand met ‘n gas-kunstenaar asook ‘n kontantkroeg en kos-verkope saam met die al die spelers by die stadium te geniet.
Op 20 Augustus sal die plaat- en premier-kompetisie van die amateurtoernooi vanaf 10:00 plaasvind. In die Plaatkompetisie sal die onderste vier spanne teen mekaar uitspeel en in die premierkompetisie sal die top-vier spanne sake uitspook.
Die finale wedstryde sal op 22 Augustus plaasvind.
Vir meer inligting of om tydens die toernooi te adverteer, skakel gerus vir Joan du Toit by (015) 291 4752 of stuur ‘n e-pos na joan@limbloubulle.co.za.



