Rugby-ramkatte: Noodelikes deur na gemeenskapsbeker
BB Truck Noordelikes het Donderdag-aand hulle plek in die Cell C-gemeenskapsbeker verseker toe hulle Potgietersrus Rugbyklub in Mokopane vir 'n tweede keer met 'n eindtelling van 32-10 verslaan het.
POLOKWANE – BB Truck Noordelikes het Donderdag-aand hulle plek in die Cell C-gemeenskapsbeker verseker toe hulle Potgietersrus Rugbyklub in Mokopane vir ‘n tweede keer met ‘n eindtelling van 32-10 verslaan het.
Noordelikes se afrigter, Frederick Romijn, was selfversekerd en die span het nie gesukkel om punte aan te teken nie.
Die span het vier drieë ingeryg om Potties uit te skakel.
“Ons het baie goed gedoen by die afbreekpunte en die agterlyn was puik,” het Romijn vertel.
Hy het bygevoeg by dat kaptein Mynhard Smith, slot Tiny Mametsa, en vasskopstut Thulani Mathonsi uitgesonder word vir hulle uitstekende spel.
Koning van Rensburg, Arno Venter, Sias van Wyk en Johan de Beer het elkeen ‘n drie gedruk terwyl Zander Byleveldt drie doelskoppe en twee strafdoele tussen die pale deur gejaag het.
Noordelikes sal op 13 September ‘n vriendskaplike wedstryd teen ‘n Suparugby-span, wat hoofsaaklik uit klubspelers van Johannesburg bestaan, speel. “Dit is ‘n baie sterk span, maar dis goeie voorbereiding vir die gemeenskapsbeker,” het Romijn verduidelik.
Noordelikes was oor die afgelope agt jaar elke jaar die wenners van die Boet Fick-liga en het vanjaar net een van hul agt wedstryde verloor.
Die span kwalifiseer vir ‘n derde agtereenvolgende jaar vir die Cell C-gemeenskapsbeker.



