Leeu sorg vir groot pret by Triegies-gholfdag
Hoërskool Louis Trichardt het hul jaarlikse gholfdag Saterdag by die Soutpansberg Gholfklub aangebied.
MAKHADO – Hoërskool Louis Trichardt het hul jaarlikse gholfdag Saterdag by die Soutpansberg Gholfklub aangebied.
Dit was ‘n dag vol pret vir almal wat dit bygewoon het en die gholfspelers het die heerlike somerweer geniet.
‘n Leeu het ook sy stem kom dik maak by die gholfdag, wat op dieselfde dag as die Curriebekerfinaal tussen die Westelike Provinsie en die Goue Leeus aangebied is.
Die leeu het veral tydens die prysuitdeling aan die einde van die dag die WP-ondersteuners se siele uitgetrek met sy danspassies. Op die ou einde was dit egter die leeu wat kop onderstebo die aftog moes blaas nadat WP die Curriebeker gewen het.
Soutpansberg Gholfklub se klubkaptein, Marius Mosterd, het elkeen wat van hierdie dag ‘n sukses help maak het tydens die prysuitdeling bedank.
Triegie-onderwyser, Sarita Botha, het verduidelik dat die skool jaarliks hierdie gholfdag hou ten bate van die skool se rugby- en hokkiespanne.
Wenners:
1. Alicia Bezuidenhout en Lezaan van der Merwe, 52 punte.
2. Vic en Kotie Jacobs, 46 punte.
3. Khangale Malange en Colbert Machumela, 46 punte na ‘n uittel.
4. Marius Mostert en Arie Steyn, 45 punte.
5. Danie Jooste en Ferdi Viviers, 45 punte na ‘n uittel.
Bennie Smith en Lezaan van der Merwe het die pryse gewen vir die naaste aan die pen op die tweede putjie en Sampie van Niekerk en Jannike Pohl het die pryse gewen vir die naaste aan die pen op die 15de putjie.



