‘n Blink rugbytoekoms wag op jong Franko
Franko Coetzee, 'n gr. 7 leerder van Laerskool Pietersburg-Noord (Noordskool), was van die eerste keer wat hy as 'n o/9-rugbyspeler op die veld gedraf het, 'n aanwins vir sy skool se rugbyspanne.
POLOKWANE – Franko Coetzee, ‘n gr. 7 leerder van Laerskool Pietersburg-Noord (Noordskool), was van die eerste keer wat hy as ‘n o/9-rugbyspeler op die veld gedraf het, ‘n aanwins vir sy skool se rugbyspanne.
Franko het van die begin af vir Noordskool se A-rugbyspanne uitgedraf en is vanjaar aangewys as kap-tein van die o/13-Cravenweekspan van die Limpopo Blou Bulle.
Hierdie span het onder sy kapteinskap vierde uit 18 spanne geëindig, iets waarop Franko trots is.
Hy is ook verkies tot die Limpopo Blou Bulle- sewesrugbyspan en is as een van Noordskool se rugbyspelers van die jaar aangewys.
Franko is ‘n veelsydige speler wat al as flank, senter en agsteman op die veld vir die skool se rugbyspanne uitgedraf het.
Hy het vertel dat Jannie du Plessis sy rolmodel is.
“Hy speel goeie rugby en is ‘n mediese dokter. Ek sal ook graag ‘n dokter wil word en vir my land rugby speel. Ek weet dat ek hard sal moet werk, maar dit is wat ek beplan om te doen,” het hy vertel.
Franko het gesê hy be-skou Attie Visagie, Noordskool se skoolhoof en afrigter van die eersterugbyspan as sy mentor.
“Rugby is vir my meer as net ‘n sport. Ek geniet die spel op die veld en die uitdagings, maar dit is ook vir my lekker om spelers van ander spanne te ontmoet,” het hy gesê.
Hy het ook vertel ook dat dit vir hom spesiaal is wanneer sy familie langs die veld staan wanneer hy speel.
“My familie motiveer my en was vanjaar met elke wedstryd langs die veld om my te ondersteun.”
Hy het aan Review vertel dat hy volgende jaar by Hoërskool Ben Vorster se rugbyakademie sal aansluit en het alle borge wat hom op sy rugbypad gehelp het bedank vir hulle ondersteuning deur die jare.
“Ek hoop om elkeen wat my al gehelp het trots te maak met my rugbyspel in die toekoms.”



