Ster-atleet JJ oppad na Kenia om sy atletiekloopbaan hupstoot te gee
JJ van der Merwe (18) is 'n plaaslike atleet wat oor ses maande, in Junie, na Kenia sal vertrek om daar by een van die wêreld se beste afrigtings-institute aan te sluit.
POLOKWANE – JJ van der Merwe (18) is ‘n plaaslike atleet wat oor ses maande, in Junie, na Kenia sal vertrek om daar by een van die wêreld se beste afrigtings-institute aan te sluit.
Hierdie uitstekende 800m-atleet sal in Kenia by die Endurance Village-instituut inskakel, waar hy saam met wêreldklas-atlete soos Aspel Kiprop, David Rudisha, Jake en Zane Robertson aan sy tegniek sal skaaf.
JJ sê hy sal eers vir ‘n maand lank by hierdie instituut van die beste afrigting in die wêreld kry en daarna, indien hy voel dat hy na wense vorder, ‘n verdere ses maande aanbly. Hy sê hy wil graag by die beste afrigters en atlete leer in Kenia.
JJ sê hy hardloop tans die 800m in twee minute en twee sekondes, maar wil in Kenia aan sy persoonlike beste tyd werk en uiteindelik die 800m in een minuut en 50 sekondes hardloop.
Uiteindelik is JJ se mikpunt die 2020 Olimpiese Spele in Tokyo. Hy wil ook eendag onder die top vyf Comrades Maraton-deelnemers wees.
JJ vertel hy is ook vir die Suid-Afrikaanse aksiekrieketspan gekies, maar moes die keuse maak om sy tyd eerder aan atletiek te wy sodat hy die hoogste sport in hierdie sportsoort kan bereik.
Die jong sportster kom uit ‘n bekende atletiekfamilie en sê sy familie het hom van jongs af aangemoedig om sy atletiektalent te ontwikkel.
Hy sê die persoon wat die grootste invloed op sy lewe het, is sy pa, Johan. Johan is self ‘n kranige atleet en is die Suid-Afrikaanse rekordhouer van die Ultra Maraton-reeks.
JJ oefen nou saam met afrigter Leon Bannai en lê sowat 90km per week af. Hy sê sy oefensessies bestaan hoofsaaklik uit kwaliteits-oefeninge soos 16 keer 400m op ‘n slag.
Nike borg JJ en hy kry afslag op alle Nike-produkte.
‘n Plaaslike weldoener, Paul Robertse, maak ook maandelikse finansiële bydraes om JJ die geleentheid te gun om sy drome te volg.
“Wanneer ek harde werk insit, kry ek resultate. Daarom het ek atletiek as loopbaan gekies. In atletiek is daar geen ander uitweg as om hard te oefen indien jy bo wil uitkom nie,” sê JJ.



