Kleiduifskiet, diepseehengel maak van Pieter ‘n wenner
Pieter Greyling, 15-jarige leerder van Hoërskool Pietersburg blink uit in kleiduifskiet en diepseehengel.
POLOKWANE – Pieter Greyling is ‘n jong man wat nie skrik vir ‘n unieke uitdaging nie.
Hierdie 15-jarige leerder van Hoërskool Pietersburg blink uit in kleiduifskiet en diepseehengel.
Hy vertel hy was in November die jongste skut om deel te neem aan die Chairman’s Cup-kleiduifskietkompetisie en het in Desember ‘n buitengewone groot bloumarlyn uit die diepsee getrek.
Pieter geniet diepseehengel en het op 7 Desember ‘n enorme bloumarlyn uitgetrek.
“Dit was ‘n wonderlike ervaring. Die bloumarlyn het 304kg geweeg en dit was ‘n uitdaging om dié vis uit die water te kry,” vertel Pieter.
Op ouderdom van nege jaar het hy sy eerste seilvis gevang en in Desember 2013 het hy ‘n streepmarlyn gevang; beide is visspesies wat besonder moeilik is om uit te trek.
Pieter verduidelik dat hy verlede jaar ook aan die Suid-Afrikaanse kleiduifskiet-proewe begin deelneem het.
Hy is volgens sy pa, Faan, tans op die standaard wat hy moet wees om Suid-Afrika uiteindelik te verteenoordig.
“Ons is vol vertroue dat hy die Suid-Afrikaanse span sal haal,” sê Faan.
Indien Pieter kwalifiseer vir die nasionale span, sal hy Suid-Afrika verteenwoordig by die wêreld-kleiduifskietkampioenskappe wat in San Antonio in die VS in September sal plaasvind.
Faan vertel trots dat Pieter sy Gauteng-Noord-kleure verlede jaar verwerf het.
“Hy is ook gekies as spanlid wat aan die roemryke Chairman’s Cup-kleiduifskietkompetisie, wat in November in Kimberley plaasgevind het, deel te neem.”
Die Chairman’s Cup-kleiduifskietkompetisie vind slegs een keer per jaar plaas waartydens die beste drie skuts van vier dissiplines uit elke provinsie gekies word om teen mekaar mee te ding.
“Pieter het daar menige gesoute ouer skuts die stof laat byt. Hy was ook die jongste skut by die kampioenskap,” sê Faan.



