‘Wat jy insit, is wat jy uitkry’
Vir die 49-jarige Michael Buys is hardloop meer as net 'n sport – dit het al 'n leefwyse geword.
POLOKWANE – Vir die 49-jarige Michael Buys is hardloop meer as net ‘n sport – dit het al ‘n leefwyse geword. Hy neem reeds 20 jaar al deel aan langafstandwedlope. “Ek het op skool aan atletiek deelgeneem, maar was nie regtig geinteresseerd in langafstande nie.”
Hy vertel dit was eers na skool, toe hy glad nie meer aan sport deelgeneem het nie, dat die langasemgogga hom gebyt het.
In sy jonger jare was hy kaptein van Athlone Kollege se sokkerspan sedert sy tweede jaar totdat hy afstudeer het. Hy skryf reeds drie Comrades Marathonne agter sy naam. “Ek gaan dié jaar my vierde Comrades Marathon hardloop. Ek neem net elke vyf jaar deel aan die Comrades want dit tap ‘n mens. ‘n Mens moet nie net fisiek gereed wees nie, maar ook geestelik.” Hy het sy eerste Comrades in 2000 gehardloop, maar na afloop daarvan ‘n kniebesering opgedoen wat geopereer moes word.
Beserings kom makliker met die ouderdom, vertel hy.
“Ek raak nou maar oud so beserings kom meer gereeld, maar ek hou moed en probeer dit so ver as moontlik voorkom.”
Tans neem hy nie kompeterend nie, maar hardloop eerder korter wedlope saam met sy vrou, Nicoline.
“My twee seuns wil niks weet van hardloop nie, maar my vrou was nog altyd by my sy, en ons geniet dit baie om saam te hardloop,” sê Michael. Die egpaar hardloop reeds 15 jaar al vir die Polokwane Atletiekklub. Sy oefenroetine is taai.
Hy oefen vyf keer ‘n week – 10 km per dag en tussen 20 en 30 km op ‘n Saterdag.
“Ek raak nou maar oud so beserings kom meer gereeld, maar ek hou moed en probeer dit so ver as moontlik voorkom”
“Ek oefen van Maandag tot Donderdag en dan rus ek op Vrydae en Sondae. Dit wat ‘n mens insit is dit wat jy uitkry.” Sy inspirasie, sê Michael, is sy oorlede pa, Josef.
“Hy het altyd ‘n unieke manier gehad om ‘n mens te motiveer en te inspireer sonder dat jy dit kon agterkom, ek voel dat hoe meer ek hardloop hoe meer sien ek van my pa in myself.” Wanneer hy ontspan geniet hy dit om sport op TV te kyk en om sy vingers in die tuin besig te hou.
Sy volgende wedloop is die Nguni Pub and Grill wedloop, waaraan hy en sy vrou gaan deelneem as oefening vir die Comrades.
“Ons droom om eendag aan die Twee Oseane Marathon deel te neem. Ek glo ons sal dit baie geniet.” “Hardloop is ‘n manier om jou kop skoon te kry, om die natuur in te neem, jouself te geniet en ontslae te raak van al die stes van ons alledaagse lewe.”



