Editor's choiceLocal sportSport

Gholfspeler én ‘n langasem

'Gholf is my lewe, maar hardloop 'n kortkop agter'

POLOKWANE – Johan Geldenhuys jnr. (24) is ‘n jong gholfspeler van wie die talent ver strek. Hy hardloop reeds sedert sesjarige ouderdom en het gholf en krieket op nege jaar opgeneem. “Daar het so ‘n paar ou gholfstokke in my pa se kamer rondgelê en ek het besluit om dit af te stof en toe byt die spinnekop. Vandaar kon ek net nie ophou speel nie,” vertel hy. Op hoërskool het Johan besluit om die krieket te laat vaar om meer op gholf en langafstande te konsentreer.

Naskool studeer hy gholf vir vier jaar en ontvang ‘n kwalifikasie hierin deur die Professionele Gholf Assosiasie (PGA), as afrigter en professionele speler. Hy het reeds vele gholfprestasies op sy kerfstok.

In 2007 behaal hy ‘n tweede plek in die Polokwane klubkampioenskappe op 16-jarige ouderdom; in 2009 haal hy die Westelike Provinsie se o/23-span; en as 18-jarige wen hy die Suid-Afrikaanse Amateur kwalifiserende ronde op die King David gholfbaan in Kaapstad. Johan skryf ‘n paar marathons en ultra-marathons agter sy naam, onder meer die Comrades en Loskopdamwedlope. In 2011 het Johan die Comrades voltooi as die derde jongste persoon ooit – op 21.

“Gholf is my lewe, maar hardloop ‘n kortkop agter. Ek sal moeilik afsien van enige een van die twee,” vertel hy. Jy kan vir Johan bedags by die Polokwane Gholfklub se Pro Shop raakloop.

Dis hier waar hy sy passie vir nie net die spel nie, maar ook vir mense, uitleef deur ook af te rig.

Sy droom is om as professionele gholfspeler eendag aan die Sonskyntoer en die Europese Gholftoernooi deel te neem. Hy oefen ook reeds hard ter voorbereiding vir die Comrades Ultra Marathon op 31 Mei. Sy pa, ook Johan, is sy inspirasie, “hy het al self baie op sportvlak bereik”. Johan sluit af: “Vanselfsprekend wil ek baie deur my gholf en langafstande bereik, maar ek wil ook mense na die Here toe lei – nog ‘n passie van my”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button