Bosveld SportLocal sportSport

Welgedaan Hansies!

Hoërskool Hans Strijdom se blouvlam brand helder nadat die o/17- rugbyspan met Pietersburg Hoër (PHS) in die finaal van die Kia Bosveld Rugbytoernooi afgereken het.

MOKOPANE – Die Hansies het verlede Woensdag met 25-24 geseëvier nadat daar sowat nege minute voor die eindfluitjie geblaas het, oorgeduik is vir die wendrie op PHS se velde.

Skoolhoof George Klopper vertel dit was ‘n wipplankwedstryd en die skare het tot die einde op die punte van hulle stoele gesit. Die oorwinning was meer as ‘n driedubbele glorie met die sterk stut, Pieter Niemann wat as speler van die toernooi aangewys is en die heelagter, Brendan Palmer, as die beste skopper van die toernooi. Voeg daarby ook dat die agtsteman, Keenan Brand, as speler van die wedstryd aangewys is.

Die toernooi het sowat drie weke terug afgeskop met tien o/17 spanne wat mekaar goed opgekeil het. Die Hansies het Hoërskool Nylstroom in hulle eerste wedstryd met 53-3 geklop. Daarna volg ‘n 24-8 oorwinning oor Hoërskool Tom Naude wat vir hulle ‘n plek in die finaal teen PHS besorg het.

Klopper sê die Hansies het ook drie jaar gelede die wentrofee gelig. Dit was die vyfde jaar wat die Hansies aan dié toernooi deelneem en die derde jaar dat hulle in die finaal speel.

Hierdie top o/17-span was verlede jaar die o/16-wenner van die Beeldtrofee vir mediumskole en dus kan daar aanstaande jaar uitgesien word na ‘n opwindende rugbyseisoen.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button