Bosveld SportLocal sportSport

Rugbyspeler met groot drome

Op die jong ouderdom van sewe het Luandro Cangueiro as deel van Laerskool Krugerpark se bulletjiespan op die groen gras van Loftus Versveld uitgedraf en daar het sy gróót liefde vir die sport ontstaan.

MOKOPANE – Vandag spog die 18-jarige leerder van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) met ‘n hele string rugbyprestasies waarvan hy onder meer die jaar vir die SA Bokkiespan gekies was, wat pas teruggekeer het van ‘n rugbytoer in Rusland.

In gr. 6 is Luandro vir die eerste keer vir die Limpopo Blou-bul span gekies en vandaar het hy nog net die rugbyleer na sukses geklim. Nie net is hy ‘n kranige speler nie, maar ook ‘n goeie leier, want hy was al meer as een keer gekies as kaptein vir die onderskeie spanne.

Dis ongewoon vir ‘n stut om reeds op 18 teenstanders te intimideer, maar Luandro het gedurende die twee rugbyseisoene wat hy vir HPP se eerstespan uitgedraf het gewys hy is ‘n staatmaker. Hy het sedert gr. 8 vir die skool se A-spanne in die nr. 1 trui gespeel en vinnig hulle top loskopstut geword.

Luandro vertel die toer van 2-8 Oktober in Rusland was ‘n besonderse ervaring en dat hulle teen ervare spanne soos Rusland se Nasionale o/21 span kragte gemeet het. Hy sê ook dat hy die museums en uitstappies na die verskillende toerisme aantreklikhede vreeslik geniet het, maar dat hy nie sommer sy SA paspoort sal verruil nie.

Luandro sê die gevoel net voordat jy op die rugbyveld draf is onbeskryfbaar. “Adrenalien bruis deur jou are en die gees onder die spelers is staties.” Die seisoen in 2015 waar hulle in die finaal van die Beeldtrofee gespeel het was vir hom onvergeetlik.

Hy sê hy gaan sy mede-spelers en skoolvriende mis wanneer hy volgende jaar BA Gedragswetenskap by die Universiteit van Potchefstroom gaan studeer, maar dat hy verseker nog nie sy rugbyskoene gaan ophang nie.

Sy ouers, Louis en Annamarie, is sy grootste ondersteuners en hulle het nie sommer een van sy wedstryde misgeloop nie. Hy sê sy hele familie deel sy liefde vir rugby en dat hulle almal groot sportgeesdriftiges is.

“Ek sal aanhou oefen wanneer die res van die wêreld slaap, want my droom is om eendag die springboktrui oor my kop te trek,” sê Luandro met ‘n breë glimlag.

 

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button