Krugie wen brons by SA’s
Wanneer dit by goeie sportmanskap kom, wys Jana Nel (13) sy is bobaas.

MOKOPANE – Sy het tydens die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe ‘n brons medalje in verspring verower.
Jana, ‘n leerder van Laerskool Krugerprark, het ‘n afstand van 5,08 m tydens die SA kompetisie in die Paarl, Wes-Kaap gespring. Sy is ook haar skool se Victrix Ludorum weens haar goeie prestasies in verspring en hekkies. Benewens atletiek is sy ook vanjaar ‘n leier, presteer goed in haar akademie, speel senter in die netbalspan en het verlede jaar vir die Limpopohokkiespan as linker-‘link’op die veld uitgedraf.

Om so goed te doen in sport, glo die sportster dat die regte oefening van kardinale belang is, maar dat haar talente ook in haar gene is. Haar lengte tel ook in haar guns.
“Ek oefen omtrent elke dag saam met my afrigter, Gerda du Toit. Sy is sekerlik die beste afrigter in Suid-Afrika. Ek is baie dankbaar vir haar leiding.”
Haar ma, Wilma, was altyd sportief en pa Phillip doen armdruk en het vir die oumanne dorpsrugbyspan gespeel.
Sussie, Wilma, bring ook haar kant in skoolsport en sy speel tans hokkie. Haar jonger broer, Phillip, geniet stoei.

Jana vertel dat die kompetisie tydens die SA’s straf was, maar dat sy werklik vir niks anders as ‘n derde plek gebid het nie.
“Ek was baie op my senuwees. Vir my hekkie-item het ek nie hoë verwagtinge gehad nie, maar ek het alles in verspring gegee. Toe ek by my tweede sprong kom besef ek dat die ander deelnemers nie so ver soos ek gespring het nie en my tree was perfek. Daar was ‘n lekker gevoel in my maag wat my laat weet het ek gaan ten minste derde eindig. Die bekommernis was verby en ek het net die oomblik verder geniet.”
Sy vertel dat sy haarself verras het omdat sy nie met vorige kompetisies so goed gevaar het nie, maar wel uitstekend tydens die SA’s. Jana sê haar ouers en afrigter is baie trots op haar.
“Tannie Gerda sê altyd tydens oefening vir my dat ek nog harder kan probeer en sy laat dit klink asof ek nie goed genoeg of ver genoeg spring nie.
“Eintlik weet sy nie dat ek besef dit is nie om lelik te wees dat sy dit sê nie, sy motiveer my. Ek love dit,” lag sy.
Du Toit vertel haar eie dogter, Mari, het in haar skooljare ‘n verspringrekord van 5,87 m in die o/17 ouderdomsgroep opgestel en sy wil hê Jana moet dit verbeter.
“Ek het geweet hierdie jaar was Jana se jaar, want sy het hard geoefen en byna nie een dag van oefening weggebly nie.” Jana vertel dat Mari haar rolmodel is en dat sy daarnatoe werk om eendag haar rekord te verbeter.
“Ek dink die geheim tot goeie sportmanskap is om elke dag doelgerig te oefen en selfdissipline is die belangrikste. Ek het geleer om my afrigter se raad te volg, want sy weet waarvan sy praat.”
Jana is nog onseker waar sy haar hoërskoolloopbaan volgende jaar gaan aanpak.
“Ek sal graag wil sport doen na matriek, maar ek stel ook in onderwys belang. Nog ‘n doelwit wat ek wil stel is om in die hoërskool my Proteakleure in atletiek te verower.”




