Local sportSport

Potties gereed vir stryd teen Noordelikes

Waltkon Potties nooi die gemeenskap om Saterdag op Hoërskool Piet Potgieter se veld te kom kyk na die wedstryd teen Noordelikes.

MOKOPANE – Die Waltkon Potties eerstespan fokus vandeesweek op fiksheid voordat hulle Saterdag teen Goldwagen Noordelikes uitdraf.

Hoewel die eerste- en tweedespanne verlede Saterdag albei hulle wedstryde teen die spanne van Louis Trichardt gewen het, besef die afrigters, SJ Jonker en Douw Oosthuizen daar moet hard gewerk word aan die spelers se fiksheid. Die eerstespan het met 68-24 geseëvier en die tweedespan met 69-7.

Lean Lensley, woordvoerder van die klub, sê na vier weke se aftyd het dit die eerstespan verlede Saterdag lank geneem om hulle vorm reg te kry om foute uit te skakel. “Kaptein en binnesenter, Hans du Plessis, het soos altyd van voor gelei en was veral briljant in gebroke spel. Hy het gereeld Louis Trichardt se verdedigingslyn aan die gang gehou.”

Du Plessis is as die beste algehele speler en agterspeler aangewys en die flank, Willem Dreyer, as die beste voorspeler. Die puntemakers was Dreyer en Du Plessis, JG Duvenage, Deon Klein, Adriaan Laidlaw, Deon Mans. Philip Fuls en Klaas Galane het twee keer agter die doellyn gaan druk. Du Plessis het ook met ‘n doelskop geslaag en Jan Vorster het agt keer die bal tussen die pale deurgeskop.

Potties se tweedespan het sy beste vertoning van die jaar gelewer. Die spelers het goed saamgespeel en die span se verdediging het hulle nie in die steek gelaat nie. Christiaan Geyer het vir die tweede agtereenvolgende naweek vir ‘n driekuns gesorg. Hy is ook na die wedstryd aangewys as die speler en agterspeler van die wedstryd. JD Herman, agsteman, het ook vir drie drieë gesorg. Ander puntemakers was Zach Briel (2), Marko Benade, Bennie Petzer en Thapelo Ngobeni. Lensley het met ses doelskoppe geslaag en Geyer met een.

Die klub nooi die gemeenskap om Saterdag op Hoërskool Piet Potgieter se veld te kom kyk na die wedstryd teen Noordelikes.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button