Sibbe skitter met ruiterkuns
Twee van Laerskool Pietersburg se leerders, Aydon en Sharné Venter, deel 'n spesiale band oor die sportsoort waarvoor hulle albei lief is.
POLOKWANE – Dié broer en suster neem gereeld deel aan ruiterkunskompetisies waar hulle bo die kompetisie uitstaan en hul liefde vir dié sportsoort en diere uitstraal.
Aydon het aanvanklik met die sportsoort begin en die hele familie betrek waarna sy suster eers saam met hom aan uithouritte deelgeneem het, later skouspring en vandag is hulle passie die Western Games-afdeling van die sportsoort.
Aydon is in gr. 7 en vertel hy hou van perdry omdat dit ‘n mens kans gee om baie na aan ‘n perd te kan kom omdat jy die perd leer ken. Sharné hou nou weer van die sportsoort omdat dit haar uitdaag en besig hou oor gedurende skoolvakansies en oor naweke.
Dié twee het op 28 Julie in Tzaneen die skool tydens ‘n Western Games-kompetisie gaan verteenwoordig.
Aydon behaal vier eerste plekke, twee tweede plekke en ‘n derde plek tydens die kompetisie.
Sharné behaal ‘n eerste plek, twee tweede plekke en ‘n derde plek. Sy is ook as die algehele reserwe kampioen op vlak 0 aangewys.
Die leerders wag ook om te hoor of hulle later vanjaar aan die nasionale Western Games in Parys in die Vrystaat gaan deelneem.
“Dit is baie lekker om te sien die twee kan saam ‘n sportsoort beoefen waarin hulle uitblink. Ons is baie trots op hul prestasies,” vertel hul ma, Sharon.




