Vlieëniers sprei vlerke tydens dié Afrika-beker
Vier vlieëniers en navigators vanuit die Limpopo Vliegskool het onlangs aan die jaarlikse Afrika-beker op Hazyview deelgeneem en een van die spanne het hul vliegtuig se vlerke behoorlik gesprei om die wenbeker op te raap.
MOKOPANE – Die Afrikabeker-vliegkompetisie is bekend as die oudste mikroligte vliegtuigkompetisie in Suid Afrika en vanjaar was die 31ste jaar wat dit gehou is. Die vier deelnemers van die Limpopo Vliegskool is die Voorsitter van die vliegskool en hoofinstrukteur, Nico Willemse, Willie van der Merwe, Danie Heyns en Jorrie van der Walt.

Nico vertel dat hy en Danie in een span was wat op die ou end met die wenbeker weggestap het. “Hierdie jaar was die eerste keer wat Danie deelgeneem het en ek het hom opgelei. Tydens die kompetisie was ek die navigator en hy die vlieënier. Alles het baie goed afgeloop en ons het dit geniet.”
Deur die jare het die kompetisie ook plek gemaak vir ander vliegtuie en nie net mikroligte vliegtuie neem deel nie. Vanjaar was daar vyf mikroligte vliegtuig deelnemers, agt vastevlerk ligtesport vliegtuie en 13 girokopters. Limpopo Vliegskool se deelnemers het slegs in die mikroligte vliegtuig-afdeling deelgeneem.
Na verskeie ritte met die vliegtuie uitgevoer is en die finale punte bymekaar getel is, kon die glansfunksie en prysuitdeling met ‘n maanlanding, sestigs, lugwaardin en James Bond tema by die Hotel Numbi begin. Danie het die trofee as wenner van die ‘Ribbon Cutting (Bogroll Boss)’ verower, asook die algehele wenner van die Afrika-beker met sy mikroligte vliegtuig saam met Nico.




