Local sportSport

Prins-susters laat die pedale praat in kompetisies

Die drie Prins- susters het uitgestaan by die Polokwane Pedallars Cycling Club se jaarlikse prysuitdeling.

POLOKWANE – Julia, Nicole en Janika het al drie met die loure weggestap.

Julia (16) het weggetrap met die jeugmeisietoekenning, vertel omdat sy nog net twee jaar lank fietsry.

Sy het begin deur saam met haar niggie te gaan deelneem aan ‘n kompetisie en van daar het die gogga gebyt.

“Vir my is die sportsoort baie belangrik veral omdat dit ons as gesin saam beoefen,” vertel Julia.

Buiten vir fietsry neem sy ook aan landloop deel wat help om haar fiks te hou.

Sy vertel sy self is nie só ingestel op kompetisies nie, maar vir haar gaan dit meer oor om die fietsry te geniet. “Ek geniet die natuur die meeste. En nou en dan verloor ek my balans en koop ‘n stukkie grond maar ek beveel die sport aan vir almal,” vertel sy.

Nicole (18) het die prys gekry vir die beste junior dame van 2019, en sy ry al fiets vandat sy 10 jaar oud is toe sy aan haar eerste Kremetart wedren gaan deelneem het. Vir haar gaan die sport oor familietyd, en dis ook wat sy die meeste geniet.

Nicole vertel sy sal enige iets een keer probeer en sy gee altyd haar beste. Sy is mal oor adrenalien en veral die tegniese deel van die fietsry.

“Ons probeer soveel moontlik oefen. Verlede jaar het ons tussen ses en nege ure geoefen van Maandag tot Vrydag en dan oor die naweek het ons gaan kompetisie ry, of net vir die pret in die wildtuin gaan ry,” vertel sy.

Haar oefening is minder die jaar omdat sy pas uit die skool is en besig is om te werk. Sy vertel dat sy glad nie verwag het hulle drie susters sou so goed vaar nie, maar om dit saam met jou susters te doen maak dit tog ekstra spesiaal.

Janika is ses jaar oud en geniet die tyd wat sy saam met haar ouer susters kan ry. Sy vertel dat die sportsoort lekker is al kan sy nie altyd byhou nie maar dat haar susters dan vir haar wag.

“Ek sal vir my maats sê hulle moet almal die sportsoort beoefen want dis lekker om alles saam met vriende en familie te kan doen en jy bly fiks,” vertel sy.

Vir haar is die lekkerste om vinnig te ry maar sy hou nie baie van ry oor hindernisse wat haar kan laat val nie. Sy wil eendag meer ernstig ry en aan kompetisies deelneem.

Sy vertel dit was baie lekker om die prys vir die Nipper girls (agt tot 10 jaar oud) te wen.

“Fietsry leer my uithouvermoë en hoe om vinnig te wees en ek dink almal moet die sportsoort beoefen,”

Sy het gesien hoe haar suters ry en kon nie wag om saam deel te neem nie. Een van die dae hoop sy om al die pryse in te palm waarop haar susters misgeloop het.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button