Amy (6) droom reeds groot rolbaldrome
Amy Steyn werk aan haar rolbaltegniek op die Polokwane rolbalbaan bykans elke naweek

10POLOKWANE – Net soos meeste ander ses-jarige meisies hou Amy Steyn van die kleur pink, eenhorings en allerhande ander ‘dogtertjie’ goed.
Een ding wat haar egter uniek maak is haar liefde vir rolbal. Alhoewel sy nog nie aan kompetisies deelgeneem het nie, het sy reeds haar eie rolbalballe en hulle is natuurlik pienk met blinkers op.
Amy is in Laerskool Steelpoort en is die jongste van drie sussies en drie boeties.
Dié kinders en hulle ouers is bykans elke naweek op die Polokwane rolbalbaan waar hulle die baan onderhou en aan hulle rolbaltegnieke werk.
“Ek het verlede jaar begin speel en verlede naweek die balle gekry. Ek en Tannie Lyn Lambert het mekaar pinkie-belowe om oor twee jaar saam met mekaar aan die provinsiale kompetisie deel te neem. Ek kan nie wag nie.
“Om rolbal te speel is vir my baie lekker. Ek oefen nou nog net saam met my pa, maar een van die dae gaan ek saam met die ander mense kan speel,” vertel Amy met ‘n glimlag.




