Local sport

Petrolkoppe jaag ovaalbaan aan die brand

Die volgende wedren is 4 November, wat ook die laaste wedren vir die jaar sal wees.

MOKOPANE – Die motorenjins het behoorlik gebrul op die ovaalbaan buite die dorp verlede Saterdag tydens die tweedelaaste byeenkoms vir die jaar wat die Bosveld Wedrenklub aangebied het.

Renjaers van Rietkuil Mahem en Unique Raceway Klub het vir die bosveldfamilie kom kuier, en die toeskouers het van vroegmiddag af om die baan bymekaargekom en gesorg dat die braaivleisvure brand, terwyl die renjaers vir aksie gesorg het.

Brendan Sadler ry vir homself ‘n eerste plek los in die Tintop 1660-klas.

In die stockrodklas het Francois Olivier ‘n eerste plek opgeraap, met kort op sy hakke Karlo Ruytenberg gevolg deur Sarel Nel.

Die ninja renjaers was ‘n familiepoging – hulle het al die pad van Rietkuil gekom om hul ding te kom doen. Die jong Roelf van der Merwe was algeheel eerste maar hy het so ‘n goeie hart dat hy sy wenplek vir sy sussie en niggie aangebied het.

Die Rietkuil Mahem familie is gereed vir die wedren.

Chanique Bezuidenhout is gekroon as die wenner gevolg deur Wilmien van der Merwe in die tweede plek en Roelf staan trots in die derde plek.

Roulph Nel het eerste geëindig in die 1660-gemodifiseerde klas met Francois Lewis tweede en Martin Meijer derde. In die 2.1-gemodifiseerde klas het Allen Gunningham stof in sy opponente se oë geskop met ‘n eerste plek. Kort op sy hakke was Wian Jordaan en derde Roelf van der Merwe.

In die Tintop 1660 het Brendan Sadler sy bestuursvernuf gewys vir ‘n eerste plek gevolg deur Banie Oelofse en Adriaan Jordaan.

Die ‘Hotrodman’ soos almal hom noem, WB van Niekerk, het die geleentheid gebruik om sy kar behoorlik in te loop vir die nasionale hotrodtoer wat Saterdag op die Rietkuil Mahembaan in Pretoria plaasvind. Die renjaers het die aand afgesluit met opwinding toe daar ‘n trollieresies gehou is.

Die wedrenklub bedank Steyn Staal en Food Hyper vir die koeldrank, lekkergoedpakkies en die trollies wat geborg is, asook elke ondersteuner en renjaer wat opgedaag het.

Die volgende wedren is 4 November, wat ook die laaste wedren vir die jaar sal wees.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button