Monique hou bal aan die rol met Hockey Junkies PLK
Monique Potgieter is reeds vir die afgelope bykans 10 jaar aktief betrokke by PHS se hokkie en vir vyf jaar by Limpopo Laerskole se reëls- en tegniekafdeling.
POLOKWANE – Hokkiespelers, afrigters en aanhangers in die stad is welbekend met die naam Monique Potgieter.
Sy was reeds vir die afgelope bykans 10 jaar aktief betrokke by Hoërskool Pietersburg se hokkie en vir vyf jaar by Limpopo Laerskole se reëls- en tegniekafdeling, waar sy verskeie skeidsregters touwys gemaak het.
Potgieter het in gr. 7 by Pietersburg Laerskool met haar hokkieloopbaan begin waar sy vir die tweede span gespeel het.
“Ons was Limpopowenners daardie jaar en ek was ook die kaptein, asof ek toe al geweet het wat ek nou weet,” skerts sy.
Sy vertel hoe die span in die hoërskool ‘n doelwagter nodig gehad het.
“Ek het gedink ek gaan dit probeer, en sou nooit kon raai dat dit twee van my heel beste hokkiejare sou wees nie. Daar het so baie dinge gebeur in daardie twee jaar en ek dink dit het my gelei tot waar ek nou is.”
Sy erken dat sy in gr. 2 by ‘n netbaloefening was, maar glad nie in dié sportsoort belanggestel het nie.
“Daardie tyd was daar nog nie hokkie-oefeninge nie, en ek mag ook nie saam met die seuns rugby gespeel het nie. Dus het ek by die huis saam met my broer en nefie gespeel.”
Verlede jaar het sy egter besluit om haar vlerke te sprei.
“Die groep spelers wat ek gekry het toe hulle gr. 8 was, was toe in gr. 12 en ek het dit as ‘n gulde geleentheid gesien om saam met hulle by PHS klaar te maak. Dit was tyd vir my om my eie gras groener te maak.”
Sy sê ‘n mens kom op ‘n punt in jou lewe waar jy moeilike besluite moet maak.
“Dit was een van die moeilikstes vir my, omdat ek soveel ure op die astroturfbaan was en naweke weg van die huis af, dat mens dit gewoond raak, maar die lewe gooi snaakse draaie en gelukkig kan ek vang.”
Nadat Monique by PHS weg is, het sy gevoel sy is nog nie klaar met hokkie nie.
“Saans kan ek iets op die TV kyk, dan spring daar ‘n oefening op in my kop. Hokkie raak al gewilder en ek het gevoel ek het nog ekstra om te bied. Aan die begin het ek gehuiwer, maar die mense wou nie ophou om my te pla nie.”
Dis juis hier waar sy toe die bal aan die rol gesit het om die akademie, Hockey Junkies PLK, op die been te bring.
Sy het tans twee groepe wat onderskeidelik op Maandae en Woensdae oefen.
Vir die nuwe jaar word daar pretaktiwiteite beplan waarmee sy oud en jonk gaan fiks hou.
Spelers van so jonk as o/9 kan inskryf, tot en met o/17.
Te danke aan die laerskole en minihokkie, is die jongklomp reeds relatief bekend met die basiese konsepte van die sport, en sy fokus dus daarop om die basiese oefening net ‘n trappie of drie hoër te neem.
Die groepe oefen elke Maandag en Woensdag van 18:00 to 19:00 by Mitchell House se geriewe.




