Chanté (13) seil oor hoogspringmat by SA’s
Chanté is die eerste atleet van Pietersburg Laerskool wat deurgedring het na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Pretoria.
POLOKWANE – Chanté Smith (13) se oë is stip op die hoogspringmat gerig terwyl sy gereed maak om te spring. Die lat is 1.5m hoog, ‘n bietjie laer as wat sy lank is – met 1.66m.
Selfs met die toeskouers se aanmoediging, hoor Chanté niks. Haar ondersteuners hou hulle asems op toe sy begin hardloop en met gemak oor die lat seil, en dan breek ‘n luide gejuig uit.
Hierdie is nie ‘n droom vir Chanté nie, maar die werklikheid. Sy is die eerste atleet van Pietersburg Laerskool wat deurgedring het na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Pretoria.

Sy vertel sy het reeds in gr. 2 met atletiek begin, maar eers in gr. 4 haar fokus na hoogspring geskuif.
“Daar was 19 ander hoogspringatlete en ek het 12de geëindig. Dit was baie stresvol. Die ander meisies is lank en spring hoog. Dit was lekker, al het ek geval toe ek vasgetrap het en op die lat geval. Ek oefen drie dae ‘n week, regdeur die jaar.”
Chanté sê die volgende kompetisie is eers later in die jaar. Sy gaan ook volgende jaar aan verspring deelneem.
“Ek geniet dit om aan hoogspring deel te neem. Dit is ‘n talent wat God vir my gegee het en een wat ek oefen om te probeer verbeter.”




