Local sport

Bosveld petrolkoppe maak lyne nat

Altesaam 29 spanne het ingeskryf en die naweek saam met die renjaers langs die viswaters geniet.

MOKOPANE – Van die Bosveld Wedrenklub se renjaers het die brullende motors en aksie rondom die ovaalbaan vir ‘n naweek verruil vir die stilte langs die viswaters.

“Die Nyl Biodiversity-dam was vir ‘n lang tydperk toe as gevolg van die Nylrivier wat afgekom het. Die inwoners het gesmag na ‘n lekker sosiale visvangkompetisie,” sê Rudie Meijer, organiseerder.

Rudie Meijer en Haccum Hough, Nyldambestuurder, het koppe bymekaar gesit, en so is die eerste Bosveld Nyl Classic visvangkompetisie van stapel gestuur. Dié kompetisie dien ook as fondsinsamelingsprojek vir die Bosveld Wedrenklub. “Wintermaande is nie altyd maklik vir die baan om wedrenne aan te bied nie, aangesien die koue weer min toeskouers lok.”

Altesaam 29 spanne het ingeskryf en die naweek saam met die renjaers langs die viswaters geniet. Tydens die kompetisie is klein “skin”-pryse uitgedeel vir die eerste vis tussen 2kg en 2.5kg, wat binne drie ure gevang is. Daar is ook ‘n lys van die top 10 swaarste vis opgestel, en hengelaars het alles probeer om daarop te verskyn.

Die wenners van die dag was Riaan Fourie en Marco Grobler, wat R15 000 gewen het. Die naaswenners, Owen du Plooy en Rhynhard van der Merwe, het R3 000 ontvang, terwyl Pieter Smith en Alet Pienaar in die derde plek R2 000 ingepalm het.

“Ons wil net baie dankie sê aan almal wat die kompetisie ondersteun het – die deelnemers wat van ver gekom het, almal wat die naweek kom ondersteun het, en veral Haccum Hough en sy span wat alles gereël het en die plek oopgemaak het. Baie dankie aan al ons borge en besighede wat pryse geskenk het, insluitend Nyl Kiosk, Metal Land, RM Civils, Kifaru Drilling, JJ Konstruksie, Prestige Upholstery, Midas, Liqui Moly, CPS, Ford Mokopane, Net Die Beste Slaghuis, Klipspringer Slaghuis, Centrailway, Arons Hardware en Renco Outdoor. Ons beplan om binnekort weer so iets aan te bied – hou ons sosiale media dop vir die volgende kompetisie,” vertel Rudie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button