Local sport

Na 55-jaar bly ringbal vir ‘Oom Buks’ ‘n passie

Oom Buks Scholtz is onlangs vereer vir sy uitsonderlike 55-jaar diens van die geliefde sportsoort.

MOKOPANE – Van die spel van ringbal of korfbal soos die ouer gardes die sport ken kan jy vir Buks Scholtz bitter min vertel.

Die 72-jarige inwoner van Mokopane speel al sedert 1970 ringbal.

Buks is onlangs vereer vir sy uitsonderlike 55-jaar diens van die geliefde sportsoort.

“Op my ouderdom het ek gesit en huil in my rolstoel, dit was vir my ‘n groot eer toe hulle die erkening vir my oorhandig het, ek het dit nie verwag nie. Met die toekening het dit gevoel of ek darem nog iets beteken vir die samelewing.” Hy het aan die Potgietersrus klub vir 15 jaar behoort, toe verplaas sy werk hom Polokwane toe, daar het hy by die Jakaranda klub aangesluit en vanjaar is hy 40 jaar deel van dié klub.

Sy ringballoopbaan het op skool in sy standard 9 jaar begin.

“Ek het eers jukskei gespeel, die jukskei- en ringbalbane was langs mekaar. Elke keer as die ringbalspan iemand nodig het het hulle my geroep om saam te speel, en dit is daar waar die liefde vir die sport begin het,” vertel Buks.

Buks Scholtz met sy toekening.

Hy het al die jare gespeel tot die gogga hom begin byt om langs die baan te blaas as skeidsregter.

Dit was so aan en af wat hy gespeel en geblaas het tot sy been hom begin moeilikheid gee en hy kon nie meer speel nie, toe gaan hy aan met die skeidsregter werk.

Buks is toe later die jare gekies as die president van die RSA skeidsregters komitee waar hy ook ‘n geruime tydjie gedien het. Hy was 13 jaar betrokke, toe verwerf hy sy SA kleure in skeidsregter, waar hy drie jaar die toekening ontvang het vir skeidsregter van die jaar.

“Ek is nogsteeds betrokke by die sport, ek is weer gekies by die Jakaranda Ringbalklub as ‘n addisionele lid, ‘n beskermheer soos hulle dit noem om my kennis te kan gebruik wanneer nodig, ek is vanjaar weer gekies as voorsitter by die Limpopo se skeidsregter vereniging.”

Volgens Buks is ringbal ‘n gesinsport waaraan oud en jonk kan deelneem. “Dit is lekker as die hele gesin of selfs die hele familie deel is van die sport.”

Die enkele hoogtepunte van Buks se loopbaan was in 2008 toe hy deel van die SA-span die geleentheid gekry het om New Zealand toe te gaan en in 2010 het hulle die land verteenwoordig in Australia.

Hy is dankbaar dat hy nog gespaar is deur die Hemelse Vader wat vir hom die geleentheid gebied het om nogsteeds deel van die sport te kan wees.

Al speel hy nie meer nie, help hy steeds met afrigting en is trots dat sy kennis met ander gedeel kan word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button