EntertainmentLifestyle

Meester tokkel die klavier vir die VLU

HY IS gelukkig as hy 'n gewone konsert uitsonderlik kan maak.

HY IS gelukkig as hy ‘n gewone konsert uitsonderlik kan maak.

Dit is die doel van sy konserte; om alles ‘n tikkie mooier te maak.

Só het Rocco de Villiers gesels met sy gehoor in die volgepakte skoolsaal van Laerskool Krugerpark.

Hy het verlede Saterdagoggend na Mokopane gekom om saam met die Vrouelandbou-unie se Potgietersrustak hul 80ste verjaardag te vier.

En dit is nie net die vroue wat kom luister het hoe hy die klawers tokkel nie, die manlike geslag het ook bankvas gesit toe die strelende klanke van sy spel die saal vul.

Rocco is ‘n meester voor die klavier wat weet hoe om sy gehoor in die palm van sy hand hou. Die afgelope 25 jaar skuif hy agter allerhande soorte klaviere in waarheen hy regoor die land optree.

Sy 11de CD sien binnekort die lig en daarby is daar ook ‘n derde skemerkelkieboek oppad waar hy weer sy gunsteling resepte vir smaaklike konkoksies met sy bewonderaars deel.

Sy persoonlikheid boei nes sy klavierspel. Hy is gemaklik met homself en vertel tussendeur die getokkel sy lewensverhaal sonder om doekies om te draai; eerlik en onpretensieus met ‘n humorsin wat die gehoor telkens laat skaterlag.

Dit was op sy geboortedorp, Harrismith, dat sy tannie Polla se wyse woorde reeds op ‘n vroeë ouderdom ingesink het.

“Ons het daar in die Flamingo-kafee gesit toe sy vir my sê ek is anders as die ander kinders, maar ek moet onthou in hierdie lewe is anders nie verkeerd nie, dit is net anders. Wees net eerlik met jouself en die mense om jou. Dit is dalk nie die maklikste pad nie, maar die beste een.” Dit was ook hier in die dorp se stadsaal wat hy die aktrise, Wena Naudé, vir die eerste keer op die verhoog gesien het. “Sy was soos ‘n jong Griekse godin en ek het besef ek wil ook in die wit lig in die middel van die verhoog staan en mense vermaak.”

Dit was nie maklik om die boonste punt van die suksesleer te bereik nie. Hy onthou sy eerste optrede. ‘n Vrou van Waterkloof het hom gebel om ‘n vertoning te bespreek vir haar dogter se 21ste verjaardagparty.

“Ek het daardie tyd nog nie gecharge vir shows nie. Aan die einde van die gesprek sê sy nogal ek hoef nie te worry nie sy sit my agter die gazebo waar niemand my kan sien nie. Dit het lank gevat, maar ek speel nou voor die gazebo.”

Wanneer Rocco nie landwyd konsert hou nie, reis hy graag oorsee. Hoewel hy saam sy lewensmaat in Johannesburg woon, het hy ook ‘n plaas tussen Senekal en Marquard in die Vrystaat waar hy met nguni-beeste boer.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button