‘n Outomatiese ratkas vir ikoniese Jimny
SUZUKI Auto Suid-Afrika het die ikoniese Jimny-veldryvoertuig opgeknap deur 'n rits verbeteringe binne en buite aan te bring en ook die toerustingsvlak op tegradeer.
SUZUKI Auto Suid-Afrika het die ikoniese Jimny-veldryvoertuig opgeknap deur ‘n rits verbeteringe binne en buite aan te bring en ook die toerustingsvlak op te gradeer.
Boonop is ‘n outomatiese ratkas nou vir die eerste keer as ‘n keuse beskikbaar.
Die mees ooglopende verandering is die allooiwiele van 15-duim wat met ‘n nuwe donkersilwer afwerking spog.
Die beskikbaarheid van verf-kleure is ook aangepas en twee nuwe kleure naamlik Bison-bruin en Khaki Pearl-metaalvlokverf word ook nou aangebied.
Die binneruim is ook opgeknap en veral die splinternuwe instrumentestel trek die aandag. Twee groot, ronde wyserinstrumente vir snelheid en toeretal is aan weers-kante van ‘n derde meerdoelinstrument geplaas wat ‘n magdom digitale inligting weergee.
Daaronder sluit grafieke vir brandstofvlak en enjintemperatuur,’n syferhorlosie, laestrekstatus en ‘n ritmeter in.
Die Jimny se sitplekke spog met nuwe doekstofoortreksels wat groter duursaamheid en gerief bied.
‘n Nuutontwerpte stuurwiel is ook deel van die opknappings.
Die opsie van ‘n outomatiese viergangratkas behoort veral byval te vind by motoreienaars wat koppelaarvrye ritte verkies, veral in stadsverkeer, terwyl die ratkas dit nóg makliker maak om die Jimny se legendariese 4×4-vermoë te ervaar.
Nes die handratmodel word die outomatiese weergawe met ‘n lae-strekratkas toegerus, wat sorg dat die Jimny selfs in die rofste en moeilikste toestande so te sê onstuitbaar bly.
Die jongste Jimny word steeds aangedryf deur ‘n viersilinderpetrolenjin van 1 328cc.
Enjinspesifikasies:
• Krag, 63kW teen 6 000rpm, en
• wringkrag van 110Nm teen 4 100rpm.
Die volledigtoegeruste binneruim beskik oor:
• ‘n Sentrale sluitstelsel;
• Klankstelsel met CD-speler en instemmer;
• Elektries-beheerde ruite, en
• lugversorging.
Veiligheidstoerusting:
• Dubbele lugsakke voor;
• Nekstutte;
• Rukstopsitplekgordels, en
• ABS-sluitweerremme.
Beide beskikbare Jimny-weergawes word deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km gedek asook deur ‘n diensplan van vier jaar of 60 000km.



