EntertainmentLifestyle

Thys die Bosveldklong se talente ken geen einde

Saterdag het Laerskool Pietersburg (Suidskool) hulle jaarlikse Suid Jolyt Fees op die sportvelde van die Hoër Teniese Skool Tom Naudé aangebied en Thys die Bosveldklong was een van die groot trekpleisters.

POLOKWANE – Saterdag het Laerskool Pietersburg (Suidskool) hulle jaarlikse Suid Jolyt Fees op die sportvelde van die Hoër Teniese Skool Tom Naudé aangebied en Thys die Bosveldklong was een van die groot trekpleisters.

Review het met Thys gaan gesels net voor sy optrede by die fees.

Thys, sy regte van is Streicher, het tong in die kies vertel hy het begin sing want hy was te lui om te werk en te bang om te steel.

“Ek het maar in die weermag begin om my kitaar saam te neem en mense te vermaak. Ek het my eerste album, Man se Ding, in 1997 opgeneem, maar dit was eers na my optrede op die TV-geselsprogram, Maak ‘n Las, dat ek werklik bekendheid verwerf het.”

Thys het reeds 15 CD’s opgeneem en het al op TV-programme soos Bangjan Dooiejan, Dis Hoe Dit Is met Steve, Stoute Boude, Kwêla, DKNT, Pasella, Belboks en Fiesta sy verskyning gemaak.

Bo en behalwe die musiek en televisie het Thys in 2002 sy debuut in ‘n fliek, A Case of Murder, gemaak.

Hy het verduidelik dat hy egter die verhoog bo ander vermaaklikheidsmedia verkies. “Televisie is onpersoonlik. Jy praat met ‘n dooie gesig. Op die verhoog is daar meer energie, mense gee terugvoer,” het hy gesê.

Thys het vertel hy hou van humor en daarom is sy konserte en optredes ook altyd snaaks en vol grappe.

“Ek sing oor alles wat snaaks is en skeer graag gek met alles en almal.”

Thys sing nie net of hou sy lyf akteur nie, maar is ook ‘n gekwalifiseerde afslaer en behartig graag veilings. Hy het ook ‘n rits produkte wat by sy vertonings te koop is soos CD’s en DVD’s, boeke, hoede, foto’s, plakkers, wyne, stresflesse en ‘n braaireeks.

“Vir my is die mees vernederende oomblikke op die verhoog wanneer ek my woorde vergeet. Dan maak jy maar ‘n plan. Jy sing ander woorde of sê iets.

“Die ergste oomblik ooit op die verhoog was toe die krag afgegaan het. Al wat jy kan doen is om om verskoning te vra en te wag dat die krag weer aangaan. Dit is glad nie lekker nie.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button