EntertainmentLifestyle

VLU-Pottiestak se vroue steeds baken van hoop

DIE lede van die Vroue Landbou-unie se Potgietersrustak is vlytig met breipenne, bakwerk en enige kreatiewe taak wat hul help om saam-saam die lewe met oorgawe aan te pak net soos hul voorgangers wat van 1934 gesorg het vir lekker samesyn en groei.

DIE lede van die Vroue Landbou-unie se Potgietersrustak is vlytig met breipenne, bakwerk en enige kreatiewe taak wat hul help om saam-saam die lewe met oorgawe aan te pak net soos hul voorgangers wat van 1934 gesorg het vir lekker samesyn en groei.

Die Pottiestak is vanjaar ‘n hele 80 jaar oud.

Die tak is op 9 November 1934 gestig met net 14 lede wat elk ‘n sikspens opgedok het vir die koek en tee wat tydens vergaderings bedien is.

Dié groep vroue het gewoeker en reeds met hul tweede vergadering is ‘n Kersparty vir behoeftige kinders gehou waar 203 geskenke uitgedeel is.

In 1938 was daar 90 lede en het die burgemeester die tak se eerste wisseltrofee geskenk, wat elke maand aan ‘n lid wat die beste punte behaal het met die verskeie projekte wat aangepak is gegee is.

Die vroue wat in 1940 betrokke was by die oorlog en nie die VLU vergadering kon bywoon nie, is glad beboet, maar later is die bymekaarkomtyd eers gestaak tot die oorlog uitgewoed was.

Die lede het egter kontak gehou en in 1947 het die tak se lede weer saamgekom.

In 1950 is die lede onder meer betrokke by ‘n kooksentrum wat by Hoërskool Piet Potgieter gebou word. Gedurende moeilike jare het die vroue meer gefokus op die maak van seep en brood gebak. Later het modeparades, blommerangskikkings en borduurwerk aandag begin geniet.

In 1977 was ‘n besoek van die SAUK persoonlikheid, Justus Tsungu, groot nuus en baklavas is ook vir die soldate in die destydse Rhodesië gebrei.

Die laaste VLU Sentraal Transvaalse Konferensie word op 17 Maart 1955 gehou en voortaan skakel die Potgietersrus en 22 ander takke van die omgewing in by die nuwe Bosveldstreek.

Een van die lede, Bets Viljoen, se seun en skoondogter het in 2001 die Potgietersrustak se wapen ontwerp soos wat dit tot vandag nog gebruik word.

Dit is ook nie net vroue wat kan presteer nie. Een van die lede se mans (deesdae Bosveld se rubriekskrywer), Corinus du Toit kry in 2006 ‘n punt van 85% vir sy tuisgemaakte konfyt en in dieselfde jaar ontvang die Pottiestak die Top Tak-trofee.

Marinda Kirchner se borduurwerk wen ook by die Soetdoringkonferensie en die Suid-Afrikaanse VLU konferensie ‘n eerste prys met die meeste punte.

In Augustus 2010 stel die VLU ‘n wêreldrekord op met die meeste mense wat op een spesifieke tydstip gelyktydig besig is om te brei en kort daarna neem die lede deel aan Cansa se Loop vir Hoop en voltooi 407 rondtes om die rugbyveld.

In 2011 en 2012 is die tak weer die wenners by die Soetdoring-jaarkongres.

Vanjaar het die lede gewys hulle gô is nog lank nie uit en is die Pottiestak se takadministrasie as die beste aangewys.

Dit is die wens van die Potgietersrustak dat hulle vorentoe nog baie vroue gaan oplei en toe rus om die lewe met oorgawe te leef.

Enigeen wat graag deel van die tak wil word, kan die skakelbeampte, Linda Venter by 082 775 3395 kontak.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button