Gholfdag vir ‘n goeie doel
Die familie en vriende van Hendrik Pretorius wat twee jaar gelede met maagkanker gediagnoseer is, bied volgende Saterdag, 29 November, 'n gholfdag by die Kameeldoring-gholfklub om geld vir hom in te samel.
MOKOPANE – Die familie en vriende van ‘n bekende inwoner wat twee jaar gelede met maagkanker gediagnoseer is, bied volgende Saterdag, 29 November, ‘n gholfdag by die Kameeldoring-gholfklub om geld vir hom in te samel.
Hendrik Pretorius is twee jaar gelede met kanker gediagnoseer. Die kanker is tydens ‘n groot operasie verwyder en sy maag en derms is gerekonstrukteur.
Hy het intensiewe bestraling en chemoterapie ontvang en was in remissie tot Oktober vanjaar.
Toetse het egter onlangs gewys dat die kanker terug is in sy pankreas. Gelukkig is net ‘n klein kol gekry en verwyder, asook die kop van die pankreas om seker te maak dat die kanker nie versprei nie. Sy galblaas is ook verwyder.
Hendrik lê die afgelope maand al in Netcare Pretoria-Oos se intensiewesorgeenheid. Sy wond is groot en oop en gaan nie self toegroei nie weens die dooie weefsel van die bestraling wat hy ontvang het.
Hy sal in Januarie ‘n veloorplanting moet kry om die wond toe te maak.
Hendrik is ‘n verkoopskonsultant by Waterberg Inspectacar en werk op kommissiebasis. Hy gaan vir ‘n paar maande nie kan werk nie en geen inkomste verdien nie. Sy familie en vriende bied die gholfdag aan om fondse vir hom in te samel.
Die Hendrik Pretorius gholf-dag sal ‘n tweebal beterbal wees en kos R150 per speler, wat ‘n aandete insluit.
Daar is ook groot pryse wat gewen kan word. Kontak Linda Pretorius by (015) 491 3151 of 073 349 5599 vir meer inligting.



