Groter ‘spiere’ vir dié model
Die kanniedood, fieterjasievrye Land Cruiser 70-reeks is pas vir die 2015-modeljaar opgekikker.
POLOKWANE – Die kanniedood, fieterjasievrye Land Cruiser 70-reeks is pas vir die 2015-modeljaar opgekikker.
Dié ikoniese reeks wat bekend is as ‘n geharde werkesel spog nou met ‘n nuwe V8-diesel kragbron om by sy gespierde voorkoms te pas. Dus is daar nou hope meer woema tesame met ‘n bakkievrag indrukwekkende toerusting.
Die hersiene Land Cruiser 79-dubbelkajuit, wat nie maklik misgekyk word nie, het nou nuwe uitgeboude wielnisse agter met 16-duim allooisierwiele in pleks van die gewone staalwiele. Die enkelkajuit-weergawes het dit reeds as standaard-toerusting.
Daarbenewens kry al die modelle ‘n waarskuwingsgonser vir die kopligte. Nog ‘n nuwigheid vir die 79-enkelkajuit, 79-dubbelkajuit en 76-stasiewa modelle met die V8-dieselenjin is die nuwe vryloopnawe wat outomaties sluit. Dit beteken ‘n mens hoef nie meer uit te klim as jy sou vassit om die nawe vir veldrywerk vas te sluit nie.
Die ander lopende verandering is vir die Land Cruiser 76-V8-diesel-stasiewa, wat ‘n noodwielbedekking bykry. En laastens het al die 79-V8-diesel-enkel en dubbelkajuite modelle nou ook ‘n spaarwiel-slot.
Pryse:
Land Cruiser 79-enkelkajuit
• 4.0 V6 – R459 600.
• 4.2 D – R489 000.
• 4.5 V8 D – R559 400.
Land Cruiser 79-dubbelkajuit
• 4.0 V6 – R519 700.
• 4.2 D – R545 100.
• 4.5 V8 D – R612 100.
Land Cruiser 78-stasiewa
• 4.2 D – R532 500.
Land Cruiser 76-stasiewa
• 4.2 D – R557 500.
• 4.5 V8 D – R626 000.



