DJ Ossewa by dié pretdag te sien
"Haar storie het ons waarlik geraak en soos hulle sê, nou is die res geskiedenis."
POLOKWANE – Jare terug het Daniel Jacobus in die plonsput op die plaas Ossewasrus geval.
Na drie dae in die put het hy begin sing en dit is waar DJ Ossewa gebore is. DJ Ossewa bestaan tans uit drie lede: Daniel Jacobus, sy buurman Leeuboer en Vet Frik, die plaaslike veearts.
Vet Frik het besluit om sy praktyk op Ossewarus te verlaat en sy kragte ook in te span vir ‘n nuwe, vars en onvergeetlike vertoning. Die eindresultaat is natuurlik weereens ‘n wenresep wat gehore, oud en jonk, laat huil van die lag en sorg vir ure se vermaak.
Hulle is Saterdag te sien by die Pretdag wat vir vir Henda Nel, wat aan kanker ly en dringend ‘n beenmurgoorplanting moet kry, gehou word.
Daniel Jacobus vertel dat daar ‘n paar liefdadigheidsinstansies is wat hulle ondersteun en dat Henda ‘n groot DJ Ossewa aanhanger is.
“Haar storie het ons waarlik geraak en soos hulle sê, nou is die res geskiedenis.”
Die musiek wat DJ Ossewa speel is “progressiewe alternatiewe boererock in die tradisionele styl”.
“Ek voel baie geëerd en opgewonde dat DJ Ossewa vir my gaan kom optree. Dit beteken regtig vir my baie,” sê Henda.



