EntertainmentLifestyle

2de plek vir stad se boorling

'n Voormalige inwoner van die stad, Morné Marais, is verlede Woensdag aangewys in die tweede plek in die Mnr. Suid-Afrika kompetisie.

POLOKWANE – ‘n Voormalige inwoner van die stad, Morné Marais, is verlede Woensdag aangewys in die tweede plek in die Mnr. Suid-Afrika kompetisie.

“Ek het besluit om deel te neem aan die Mnr. Suid-Afrika kompetisie sodat ek ‘n verskil kan maak op nasionale vlak. Ek wil ‘n inspirasie en rolmodel vir mense wees en ander motiveer om nooit tou op te gooi nie. Ek wil ‘n ware voorbeeld van ‘n man van eer wees,” vertel hy.

Morné (28) het grootgeword in Polokwane en sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Pietersburg voltooi.

Op skool het hy rugby, krieket en jukskei gespeel en ook aan atletiek deelgeneem. Ook het sy modelloopbaan op skool reeds begin toe hy aan die Mnr. Pietersburg en Prom Nite kompetisies deelgeneem het.

Na skool het hy eers by die polisie aangesluit en daarna het hy as ‘n persoonlike afrigter in ‘n gimnasium gaan werk.

Tans bly Morné in die Kaap waar hy gereeld liefdadigheidswerk doen.

“Ek was voor Mnr. Suid-Afrika al betrokke by die Ubuntu Huis vir weggooibabas.

“Ek wil ‘n verskil in mense se lewens maak,” vertel hy.

Morné sê hy is nog ver nie klaar met liefdadigheidswerk nie.

“Ek wil my anti-boelie-veldtog as organisasie sonder winsbejag registreer en begin om deur Suid-Afrika te toer en kinders te leer hoe om met boelies klaar te speel. Ook wil ek die boek wat ek besig is om te skryf voltooi en verder gemeenskapswerk doen. Die res is ‘n geheim vir nou.”

Hy vertel dat die beste ondervinding gedurende die Mnr. Suid-Afrika kompetisie was dat hy ‘n platform gehad het om ‘n verskil te maak op groot skaal en dat hy wonderlike mense ontmoet het.

“Ek het wonderlike vriende met die ander finaliste gemaak en dit was moeilik om aan almal totsiens te sê.

“Die Mnr. Suid-Afrika kompetisie het my so baie van myself geleer en gehelp om die roeping in my lewe te vind. Dit was baie lekker en ek sal dit weer doen.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button