EntertainmentLifestyle

Bobby kom vier die liefde by Oosskool

Bobby! Bobby! Bobby," het dit verlede Vrydag oor Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se rugbyveld geklink net voordat Bobby van Jaarsveld op die verhoog verskyn het.

POLOKWANE – “Bobby! Bobby! Bobby,” het dit verlede Vrydag oor Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se rugbyveld geklink net voordat Bobby van Jaarsveld op die verhoog verskyn het.

Oosskool se gr. 6-groep het hierdie buitelugkonsert gereël as fondsinsameling om later vanjaar vir die gr. 7-afskeid te betaal.

“Ons het besluit om, in plaas van ‘n klomp klein fondsinsamelings, een groot geleentheid aan te bied,” het Michelle van der Westhuizen, ‘n organiseerder van die konsert, aan Review vertel.

“Ons is ongelooflik dankbaar dat die weer saamspeel. Vroeër vandag was ons bekommerd dat dit sou reën, maar die Here het voorsien en dit is ‘n heerlike aand,” het sy gesê.

Die kinders het heelaand rondgehardloop en gespeel, maar die oomblik at daar beweging op die verhoog was, het die meeste kinders na vore gestorm en na Bobby begin roep.

Plaaslike kunstenaar Megan het die vertoning geopen met drie liedjies en die jongspan het haar toegejuig.

Die oomblik wat Bobby op die verhoog verskyn het, het die jongspan op en af gespring en hul gunsteling liedjies saamgesing.

Ouers het van die geleentheid gebruik gemaak om of liefdevol in mekaar se oë te staar of saam met vriende op komberse te kuier.

Bobby, wie se regte naam eintlik Pieter is, is op 6 Maart 1987 in die Paarl gebore. Hy het sy bynaam by sy pa, Bob, gekry. Hy was die middelste van drie kinders met twee susters; Cara en die bekende Karlien van Jaarsveld.

Bobby het op hoërskool reeds aan talentkompitiesiese deelgeneem en het sy eerste CD-kontrak in gr. 11 gekry waarna sy eerste solo-CD vroeg in sy gr. 12-jaar uitgereik is.

Hy is in 2010 met sy skoolliefde, Annetjie, getroud en saam het hulle twee kinders, Sion en Leben.

Bobby, wat al gewoond is aan die kalklig, het aan Review gesê hy hou sy familie uit die publiek se oog.

As Bobby nie gesing het nie, sou hy graag ‘n veearts wou word. Hy het vertel dat hy lief is vir diere en een van sy troeteldiere op skool was ‘n slang. Later het hy vir hom ‘n iguana aangeskaf en sy gunsteling hond se naam was Baboo, ‘n baie stout steekbaardterriër.

Bobby het vertel hy hou daarvan om te gaan fliek en speel ook graag in flieks of doen verhoogwerk.

Michelle en haar span het hul huiswerk gedoen en spesiaal ‘n bord soesji, Bobby se gunsteling eetding, vir hom reggehou na die optrede. “Sjoe, dis ‘n verrassing. Heerlik,” het hy gesê hy die kos sien.

Elke lid van wie gehoor wat met Review gepraat het was uit hul nate van opgewondenheid en kon nie genoeg van Bobby kry nie.

“Ek is absoluut mal oor Bobby. Ek het elkeen van sy CD’s en baie foto’s van hom,” het Annemarie Moolman, een van die toeskouers vertel.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button