Lindie leer van liefde
Lindie Strydom het bekend geword vir haar rol as Karin in Egoli en het later DKNT Gospel aangebied. Nou is sy die aanbieder van Geloof, Hoop en Liefde en lewer motiveringstoesprake.
POLOKWANE – Lindie het Saterdag die Gereformeerde Kerk Pietersburg se damestee bygewoon waar sy die gehoor toegespreek het oor spring-cleaning.
“In die tyd wat ons, ons kaste uitpak en huise skoonmaak, moet ons ook ons lewens skoonmaak deur van die warboel ontslae te raak en plek te maak vir nuwe geleenthede,” vertel Lindie.
“Onse maak alles moeilik; ons worstel met goed wat ons lankal kon afstaan. My roeping is om mense te help om hul lewens te vereenvoudig,” verduidelik sy.
Sy sê sy werk met gebroke harte en gewillige hande; mense wat glo Jesus het ‘n plan vir hulle.
“Ek dink God se kinders is moeg vir die rommel wat hulle opgaar, in hul huise en in hul lewens. Die druk is geweldig erg. Ek wil self daarop konsentreer om minder te doen maar met meer aandag. Ek wil op die oomblik fokus. Ons raak te besig met teveel dinge en dit bring afstand tussen ons en God,” sê sy.
Die fondse wat deur die geleentheid ingesamel is sal aan die Koningskinders diensgroep geskenk word.
Marie Seegers het aan die einde van die oggendtee Lindie, asook al die gaste bedank. “Dankie aan almal wat hier is. Ons het meer as 224 kaartjies verkoop en die fondse word aan ‘n organisasie geskenk wat dit verdien,” het sy gesê.








