Roedie gerat vir groot hokgeveg in Durban

'n Droom wat hy reeds as kind gekoester het word Saterdag vir Roedie Roets waar, wanneer dié twintigjarige jongman sy buiging gaan maak in die Extreme Fighting Championship (EFC) kompetisie in Durban.

POLOKWANE – “Ek het as kind hierdie sport op televisie begin dophou. Dit het ‘n droom geword vir my om myself ook eendag tussen die grotes te sien meeding. Van al die EFC kompetisies, is hierdie die grootste een in Afrika,” vertel hy.

Die onoorwonne Warren Richards, wat die Durban-toeskouers aan sy kant sal hê, is Roedie se opponent in die voorafgevegte in die veergewigafdeling (66kg).

Ondanks die nuutjie van EFC, het Roedie self ‘n rekord waarvoor talle sal vuisslaan.

Hy is reeds onoorwonne in 10 amateur-gevegte en het twee gevegte as professionele vegter gewen.

Ook het hy ‘n titel onder die belt van ‘n streekspromosie waarin hy in Gauteng meegeding het.

Hy vertel van sy ideale.

“Ek wou aanvanklik oorsee meeding nadat ek deur EFC se promotors genader is. Toe dit nie vir my realiseer nie, het my afrigters die EFC genader en die res is geskiedenis. Hulle het bevestig ek kan in Durban deelneem.”

Roets sal deelneem onder die vaandel van Fight Fit Militia (FFM) in Johannesburg.

Sy stoeivernuf, wat van sy kenmerkendste vaardigheid is tydens gevegte, het hy verkry deur jare se afrigting en mentorskap van sy pa, Jan, die bekende stoeiafrigter by die Ion Baciu Klub.

“Sedert EFC my geveg aangekondig het, reis ek en my pa elke naweek na Johannesburg waar ek verdere afrigtiging ontvang. My voorbereiding is byna perfek. Ek voel fisies goed en my kopspasie is reg.

“Ek kan nie wag om teen my opponent mee te ding nie.”

“Ek voorspel ‘n taai maar ongelooflike stryd Saterdag.

“Ek het baie lank hiervoor gewag en gaan elke oomblik inneem, hard baklei en dit geniet.”

Die geveg vind Saterdag in die reeks voorgevegte plaas, wat voor die hoofgevegte op toeskouers wag.

roelof@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button