Gesonde slaapgewoontes vir bejaardes
Review het met maatskaplike werker, Louise Smit gesels om wenke te kry vir 'n beter nagrus.
POLOKWANE – Soos ‘n mens ouer word, verander jou slaapgewoontes en ‘n mens slaap dikwels minder. Review het met maatskaplike werker, Louise Smit gesels om wenke te kry vir ‘n beter nagrus.
“Die belangrikste is om ‘n gesonde slaaptyd roetine te hê en nie 17.00 al in die bed te klim nie. Jou liggaam raak moeg van die lê. Jou ouderdom asook die hoeveelheid blootstelling aan sonlig affekteer jou slaap. Mense met meervoudige gesondheidsprobleme slaap dikwels minder of slegter as ander.”
Sy vertel ook ‘n mens moet nie televisie kyk of ‘n selfoon gebruik twee ure voor jou slaaptyd nie aangesien jou brein moet kan afskakel.
“‘n Roetine voor slaaptyd is belangrik. Stort of bad op dieselfde tyd en sit jou lig af op die selfde tyd elke aand. Jy kan vir 15 minute lees en gereelde oefening kan maak dat jy beter slaap. ‘n Glas water voor slaaptyd word aangeraai, hou ook ‘n glas water langs jou bed.”
Suster Marina Hattingh van die SAVF, vertel bejaardes kan hulle dokter vra om ‘n ligte slaappil voor te skryf.
“Vermy koffie en alkohol voor slaaptyd aangesien dit jou uit die slaap kan hou.”




