ATKV hou streekbyeenkoms, luister na jong innoverende sprekers
Die hoogtepunt van Saterdag se ATKV-streekbyeenkoms vir takke in Limpopo en Gauteng was redenaarstoesprake deur vier hoërskoolleerders, waarvan twee se huistaal nie Afrikaans is nie. Cara Coetzee van Hoërskool Pietersburg het oor die wedloop van die lewe gepraat, waarna leerders van Mitchell House, Hlogi Manaka en Rameez Omar, die gehoor se aandag met hul toesprake …
Die hoogtepunt van Saterdag se ATKV-streekbyeenkoms vir takke in Limpopo en Gauteng was redenaarstoesprake deur vier hoërskoolleerders, waarvan twee se huistaal nie Afrikaans is nie.
Cara Coetzee van Hoërskool Pietersburg het oor die wedloop van die lewe gepraat, waarna leerders van Mitchell House, Hlogi Manaka en Rameez Omar, die gehoor se aandag met hul toesprake aangegryp het. Hul taalvaardigheid, foutlose uitspraak en passie vir Afrikaans was opvallend, juis omdat dit nie hul huistaal is nie.
Die voorsitter van die ATKV-tak Pietersburg, Marius Liebenberg, sê dit is verblydend dat baie lede van ander bevolkingsgroepe en jongmense Afrikaans as taal koester en betrokke by ATKV-aktiwiteite is.
Die geleentheid is deur 85 mense van sewe takke uit die streek bygewoon sowel as besoekers van ander takke.
Melvin Tobias, streekbestuurder van die ATKV sê dat hy veral beïndruk is met die groei van Limpopotakke en nooi die publiek uit om by die organisasie, met meer as 320 takke in Suid-Afrika en Namibië het wat ongeveer 1 400 projekte in agt streke aanbied, aan te sluit.
“Die ATKV is by 800 skole betrokke waar die belangrikheid van gehalteonderwys deur goeie bestuur en beheer benadruk word. Ons bekroon uitnemendheid in Afrikaans met ‘n verskeidenheid toekenningsgeleenthede wat koorkompetisies, tienertoneelstukke, redenaarskompetisies, die jaarlikse rieldanskompetisie en taalslypskole vir onderwysers insluit.
Storie, foto en video: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com
