Boeremusiek steeds gewild onder oud en jonk

Die Boeremusiekgilde Pietersburg se maandelikse mandjiedans wat verlede Saterdagaand by Pietersburg Laerskool gehou is, was aanduidend van die gewildheid van hierdie soort musiek en gaste is by die deur met sjerrie en koffie verwelkom. Plaaslike musikante en gildelede van Pretoria, Mookgophong, Mokopane en Tzaneen het die voete laat jeuk met bekende treffers soos die Magoebaskloofwals, …

Die Boeremusiekgilde Pietersburg se maandelikse mandjiedans wat verlede Saterdagaand by Pietersburg Laerskool gehou is, was aanduidend van die gewildheid van hierdie soort musiek en gaste is by die deur met sjerrie en koffie verwelkom.
Plaaslike musikante en gildelede van Pretoria, Mookgophong, Mokopane en Tzaneen het die voete laat jeuk met bekende treffers soos die Magoebaskloofwals, Orrelkaskenades en Sarie Marais en daar is heerlik om die kosmandjies gekuier.
Voorsitter van die gilde, Eugene van Heerden, het sy plek agter die baskitaar ingeneem en self ‘n paar gewilde liedjies uit vergange se dae gesing tot groot vermaak van die gehoor.
Volgens Van Heerden is die doel van die gereelde byeenkomste om die tradisie van Boeremusiek te laat voortleef. “Boeremu­siek se gewildheid neem nog steeds toe en dit is verblydend om te sien hoeveel jongmense en kinders aanklank by hierdie eg Suid-Afrikaanse genre vind,” sê Van Heerden.
Van Heerden nooi die publiek uit om die gilde se jaarafsluiting wat op 1 Desember by Pietersburg Laerskool gehou word, by te woon. “Die verrigtinge begin reeds om 09:00 en ons maak heeldag musiek. Braaivleisvure, pap en sous sal gratis verskaf word en die dag word afgesluit met ‘n mandjiedans. Ons nooi almal uit wat ‘n instrument kan speel of wil sing om ons te ondersteun,” sê Van Heerden.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Eugene van Heerden, voorsitter van die Boeremusiekgilde Pietersburg, met sy baskitaar.

 

Carla Pretorius en Mia Swartz wys dat niemand te jonk is om saam te dans nie.
Magda Barnard en Adriaan Smith gooi draaie op die dansvloer.
Peet en Antjie Venter is sterk ondersteuners van die mandjiedanse.
Back to top button