Local newsLocal sportNewsSport

Bulldogs blink uit

Mense is welkom om na krieketwedstryde by stadion te gaan kyk.

SECUNDA – Die Talisman Bulldogs 2 het Saterdag, 9 November met Kinross Krieketklub kragte gemeet en die Bulldogs het die wedstryd gewen.

Talisman Bulldogs 2 se kaptein, Gert Swanepoel, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Die openingskolwers het gesukkel en die Bulldogs was 69/4.

Middelrangkolwers Trevor Young en Andre Venter het vasgestaan en ’n uitstekende kolfbeurt gehad en gesamentlik 107 lopies aangeteken in net 110 balle.

Venter het op 69 lopies sy paaltjie verloor na net 64 balle.

Young het tot op die laaste as anker geveg vir sy 47 lopies en die telling het op 235/9 na 50 beurte gestaan.

Kinross het begin kolf, maar die Bulldog-boulers het ander planne vir hulle gehad.

Kinross het drie vinnige paaltjies verloor voordat Thulani Mona sy voete begin vind het.

Hy het ’n goeie telling van 45 lopies in net 35 balle aangeteken voordat hy uitgegee was weens been voor paaltjie.

Dit was ’n afdraende pad van daar af en Kinross het nie antwoorde gehad vir die draaiballe nie.

Venter het 4/37 in sewe beurte met een leë beurt met sy draaibalwerk gekry.

Ander boulers, Francois Buys en Pieter Fourie, het elk twee paaltjies geneem.

Kinross is vir ’n totaal van 141 lopies uitgeboul.

Venter was die speler van die wedstryd.

Talisman Bulldogs 1 speel Saterdag, 16 November op Middelburg en die Talisman Bulldogs 2 speel tuis teen Piet Retief.

Vir meer inligting, skakel Venter by 082 717 0698.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button